Openbaring 18 - Die Bybel 2020-vertaling

Klaaglied oor Babilon

1Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik, en die aarde deur sy heerlikheid verlig.

2Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep:

“Geval, geval het Babilon die Grote!

Sy het 'n woonplek vir demone geword,

'n skuilplek vir elke onrein gees,

'n skuilplek vir elke onrein voël,

en 'n skuilplek vir elke onrein en veragtelike dier,

3omdat al die nasies gedrink het van die wyn

van die wellus van haar hoerery.

Die konings van die aarde

het onsedelik met haar verkeer,

en die handelaars van die aarde

het ryk geword

uit die aantrekkingskrag

van haar weelde.”

4Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê:

“Gaan weg van haar, my volk,

sodat julle nie ook deelneem

aan haar sonde nie,

en julle haar plae

nie oor julle bring nie.

5Haar sonde het opgehoop

tot aan die hemel,

en God het haar onregverdige dade onthou.

6Vergeld haar soos sy julle

dit laat ontgeld het,

vergeld haar dubbeld,

ooreenkomstig haar dade.

In die beker waarin sy vir julle

gemeng het,

moet julle vir haar

twee keer soveel meng.

7In dieselfde mate

as wat sy haarself verheerlik

en in weelde geleef het,

moet julle haar

ook pyn en smart aandoen.

Want in haar hart sê sy,

‘Ek sit steeds as 'n koningin;

ek is nie 'n weduwee nie,

en smart sal ek beslis nie ervaar nie.’

8Daarom sal die plae

wat vir haar bedoel is,

haar op een dag tref,

dood en smart en hongersnood,

en sy sal met vuur verbrand word;

want magtig is die Here God,

wat die oordeel oor haar gevel het. ”

9 Die konings van die aarde wat onsedelik met haar verkeer het en uitspattig geleef het, sal oor haar huil en rou wanneer hulle die rook van haar verbranding sien.

10Hulle sal uit vrees vir haar foltering op 'n afstand staan en sê:

“Wee, wee jou, groot stad,

Babilon, magtige stad,

binne 'n oomblik

het jou oordeel aangebreek!”

11 Ook die handelaars van die aarde huil en rou oor haar, omdat niemand hulle handelsware meer koop nie:

12 skeepsvragte goud en silwer, edelstene en pêrels, fyn linne, purper materiaal, sy en helderrooi materiaal, elke geurige houtsoort, elke voorwerp van ivoor, elke voorwerp van kosbare hout, van koper, van yster en van marmer,

13kaneel en speserye, reukwerk, reukolie en wierook, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie, slawe, en ook menselewens.

14“En die vrug van jou hartsbegeerte

is jou nou ontneem.

Al die weelde en luukshede

is nou vir jou verlore;

dit is beslis nie meer te vinde nie.”

15 Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik,

16terwyl hulle sê:

“Wee, wee jou, groot stad,

uitgedos in fyn linneklere,

purperrooi en helderrooi,

en opgesmuk met goud

en edelstene en pêrels!

17Want binne 'n oomblik

is soveel rykdom uitgewis! ”

Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan.

18 Hulle het geskree toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: “Watter stad is net soos dié groot stad?”

19 En hulle het stof op hulle koppe gestrooi en geskree, terwyl hulle huil en rou en sê:

“Wee, wee jou, groot stad,

deur wie se skatte

almal wat skepe op see besit,

ryk geword het.

Want binne 'n oomblik is sy uitgewis.

20Juig oor haar, hemel,

•heiliges, •apostels en profete!

God het julle oordeel oor haar voltrek.”

21Toe het een sterk engel 'n klip, soos 'n groot maalklip van 'n donkie, opgetel en dit in die see gegooi en gesê:

“Net so, met geweld,

sal die groot stad Babilon

neergegooi word,

en sy sal nooit weer gevind word nie.

22En die klank van siterspelers en sangers,

van fluitspelers en trompetblasers,

sal nooit weer in jou gehoor word nie.

En geen ambagsman van enige ambag

sal ooit weer in jou gevind word nie.

Ook die geluid van 'n meule

sal nooit weer in jou gehoor word,

23en die lig van 'n lamp

sal nooit weer in jou skyn nie.

Die stem van 'n bruidegom en bruid

sal nooit weer in jou gehoor word nie.

Jou sakelui was die magtiges van die aarde,

want deur jou betowering

is al die nasies mislei.

24Maar in haar is ook die bloed

van profete en heiliges gevind,

en ook van almal

wat op die aarde doodgemaak is.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help