Jesaja 30 - Die Bybel 2020-vertaling

1 “Wee die koppige kinders!”

is die uitspraak van die Here,

“hulle wat daarop uit is

om planne uit te voer,

maar sonder My,

om verdrae te sluit,

maar nie volgens my Gees nie –

om so sonde by sonde te voeg.

2 Dit is hulle wat aanhou

om na Egipte af te gaan,

maar na my wil vra hulle nie –

om toevlug te soek

in die toevlugsoord van die farao,

om te skuil in die skadu van Egipte!

3 Vir julle sal die farao

se toevlugsoord tot skande strek,

en die skuilgaan in die skadu

van Egipte sal tot vernedering

lei.

4Ja, Juda se •hoë amptenare

was reeds in Soan,

en sy boodskappers bereik Ganes.

5 Hulle staan almal beskaamd

oor 'n volk wat vir hulle

van geen nut is nie,

wat nie tot hulp,

nie tot voordeel is nie,

maar net tot skande,

en ook bespotting.”

6'n Profesie oor die diere van die Negev.

In 'n land van benoudheid en angs,

met leeuwyfies

en leeumannetjies,

met adders en vlieënde

vurige slange,

vervoer hulle op die rûe

van donkiehingste

hulle rykdom,

en op die boggels van kamele

hulle skatte,

na 'n volk wat van geen

nut is nie.

7Wat Egipte betref:

Hulle hulp is sinloos en nietig;

daarom noem ek haar

Rahab die Sittende.

8 “Gaan nou, skryf dit,

waar hulle by is,

op 'n skryftablet,

pen dit neer in 'n boekrol,

sodat dit vir 'n dag in die toekoms,

as 'n getuienis vir altyd,

daar sal wees!

9 Want dit is 'n rebelse volk,

kinders wat lieg,

kinders wat nie wil luister

na die Wet van die Here nie,

10 wat vir die sieners sê,

‘Julle mag nie sien nie!’

vir dié wat visioene sien,

‘Julle mag nie vir ons

visioene sien wat reg is nie!

Vertel vir ons vleiende dinge;

sien bedrieglike visioene!

11Wyk af van die pad!

Draai af van die gebaande weg!

Hou op om ons lastig te val

met die Heilige van Israel!’ ”

12Daarom, so sê die Heilige

van Israel:

“Omdat julle hierdie woord

verwerp het,

vertrou het op afpersing

en skelmstreke,

en daarop gesteun het,

13 daarom sal hierdie sondeskuld

vir julle wees soos die bres

in 'n hoë muur wat oorhel

om te val,

waarvan die ineenstorting

skielik, onverwags, sal kom.

14 Dit sal gebreek word

soos 'n pottebakkerskruik breek –

dit word genadeloos

stukkend geslaan,

sodat tussen die stukkies

geen potskerf gevind kan word

om kole uit die vuurmaakplek

te haal of water uit 'n kuil

te skep nie.”

15Want so sê my Heer, die Here,

die Heilige van Israel:

“In bekering en rustigheid

lê julle redding,

in kalmte en vertroue lê julle krag;

maar julle weier.

16Julle sê,

‘Nee, maar op perde sal ons vlug’

– daarom sál julle vlug –

‘op vinniges sal ons ry’

– daarom sál julle agtervolgers

wys hoe vinnig hulle is.

17 Eenduisend van julle sal

vir die dreigement van een vlug;

vir die dreigement van vyf

sal julle vlug,

totdat daar van julle

soveel oorbly soos 'n vaandel

op die kruin van 'n berg,

soos 'n banier op 'n heuwel.”

18 Om dié rede wag die Here

om aan julle genade te betoon;

om dié rede rig Hy Hom op

om Hom oor julle te ontferm.

Want die God van reg is die Here;

gelukkig is almal wat op Hom wag.

19 Ja, volk wat op Sion,

in Jerusalem, woon,

julle sal sekerlik nie meer huil nie.

Die Here sal beslis genade

aan julle bewys

op julle roepstem om hulp.

Wanneer Hy hoor,

sal Hy julle antwoord.

20My Heer sal vir julle

brood van kommer

en water van verdrukking gee.

Maar dan sal julle Groot

Leermeester Hom nie meer

vir julle verberg nie;

julle eie oë sal julle Groot

Leermeester sien.

21Met julle ore sal julle

'n woord agter julle hoor:

“Hier is die pad, gaan daarop,

wanneer julle regs of links wil hou!”

22Dan sal julle die plaatwerk

van julle silwerafgodsbeelde,

en die bedekking van julle

vergulde gegote beelde

onrein verklaar.

Julle sal dit weggooi

as iets wat besoedel is.

“Gemors!” sal jy daarvoor sê.

23Hy sal reën gee vir jou saad

wat jy in die grond saai,

en die opbrengs van die grond

sal voedsel wees –

dit sal geil en vet wees.

Jy sal jou vee op daardie dag

laat wei –

'n uitgestrekte weiveld.

24Die beeste en donkiehingste

wat die grond bewerk,

sal goeie voer eet,

voer wat uitgewan is

met 'n houtgraaf en gaffel.

25 Op elke hoë berg

en elke verhewe heuwel

sal daar leivore, watervore, wees,

op die dag van die groot

slagting wanneer torings val.

26 Die lig van die volmaan sal wees

soos die lig van die helder son,

en die lig van die helder son

sal sewevoudig wees,

soos die lig van sewe dae,

op die dag wanneer die Here

die gebreekte plekke

van sy volk verbind,

en die wonde wat Hy

toegedien het, genees.

27Kyk, die Naam van die Here

kom van ver,

sy toorn brand, dit laai op.

Sy lippe is vol vervloeking,

sy tong 'n verterende vuur.

28 Sy asem is soos 'n stroom

in vloed –

tot by die nek reik dit.

Hy is daarop uit om nasies te skud

in die sif van vernietiging.

Hy sit teuels wat mislei

aan die kake van volke.

29 Vir julle sal daar sang wees

soos in die nag van heiliging

voor 'n fees –

met vreugde in die hart

soos in 'n optog met fluite,

op pad na die berg van die Here,

na die Rots van Israel.

30Die Here sal sy majestueuse

stem laat hoor,

die neerkom van sy arm laat

sien in heftige striemende toorn –

'n vlam van verterende vuur,

gietende reën,

stortbuie en haelstene.

31 Ja, vanweë die stem van die Here

sal Assirië verskrik wees –

met 'n stok sal Hy hom slaan.

32Elke hou van die staf wat straf,

wat die Here op hom

laat neerkom,

sal onder tamboeryn-

en lierspel plaasvind.

Met sy oorlogstuig

sal Hy met opgeligte hand

teen die land veg.

33 Ja, 'n brandstapel

is lankal reeds gepak;

dit is ook vir die koning gereedgemaak

– diep en wyd –

'n stapel, met vuur en hout

in oorvloed;

die asem van die Here brand

soos 'n stroom swawel daarin.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help