Jesaja 52 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Word wakker!

Word wakker!

Beklee jou met jou krag, Sion!

Trek jou pragtige klere aan,

Jerusalem, heilige stad!

Want in jou sal onbesnedenes

en onreines nie langer kom nie.

2Skud die stof van jou af!

Staan op,

gaan sit op jou troon, Jerusalem!

Maak jou los van die bande om jou nek,

krygsgevangene, dogter van Sion!

3 Ja, so sê die Here: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.”

4 Ja, so sê my Heer, die Here: “Na Egipte het my volk aan die begin afgetrek om as •vreemdelinge daar te woon. Assirië het hulle sonder rede verdruk.

5Maar nou, wat vind Ek hier?” is die uitspraak van die Here. “Want my volk is sonder rede weggeneem, sy heersers huil,” is die uitspraak van die Here, “en my Naam word voortdurend, daglank, verguis.

6Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ”

7 Hoe lieflik op die berge

is die voete van 'n boodskapper van vreugde,

een wat vrede verkondig,

wat 'n goeie boodskap bring,

wat verlossing verkondig,

wat vir Sion sê:

“Jou God heers as koning!”

8Luister na jou wagte,

hulle roep uit,

saam jubel hulle;

want reg voor hulle oë

aanskou hulle die terugkeer

van die Here na Sion.

9 Breek saam uit in gejubel,

puinhope van Jerusalem!

Want die Here troos sy volk,

Hy koop Jerusalem los.

10 Die Here ontbloot sy heilige arm

voor die oë van al die nasies.

Al die uithoeke van die aarde ervaar

die verlossing deur ons God.

11 Wyk uit!

Wyk uit!

Trek weg van daar af!

Aan iets onreins

moet julle nie raak nie.

Trek weg uit haar midde!

Hou julle rein, draers van die Here

se tempelgereedskap!

12 Julle mag egter nie oorhaastig

wegtrek nie,

nie op die vlug slaan nie;

want die Here

gaan voor julle uit;

die God van Israel

vorm julle agterhoede.

13“ Kyk, my dienskneg

sal suksesvol wees,

hy sal uitstyg, uittroon,

en baie verhewe wees.

14 Soos baie ontsteld was oor hom

– so onmenslik misvormd

was sy voorkoms,

sy gestalte nie meer

dié van 'n mens nie –

15net so sal hy baie nasies verbyster;

konings sal oor hom swyg.

Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien;

en wie nie gehoor het nie, begryp. ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help