Amos 9 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Ek het my Heer by die altaar sien staan. Hy het gesê:

“Slaan die pilaarkop

sodat die drumpels skud.

Maak 'n einde aan hulle,

aan wie op die voorpunt is

van hulle almal.

Hulle agterhoede sal Ek

met die swaard ombring.

Geen vlugteling onder hulle

sal ontvlug nie;

geen oorlewende onder hulle

sal ontkom nie.

2 Al grawe hulle tot in die •doderyk –

van daar af sal my hand hulle uithaal.

Al klim hulle op in die hemel –

van daar af sal Ek hulle afbring.

3 Al verberg hulle hulleself

op die kruin van Karmel –

daar sal Ek hulle opspoor en uithaal.

Al kruip hulle vir my oë weg

op die bodem van die see –

daar sal Ek die slang opdrag gee

en hy sal hulle pik.

4 Al gaan hulle in ballingskap

voor hulle vyande uit –

daar sal Ek die swaard opdrag gee

en dit sal hulle ombring.

Ek sal my oog op hulle hou,

ten kwade, nie ten goede nie.”

5 My Heer, die Here,

Heerser oor alle magte,

Hy wat die aarde aanraak en dit sidder,

sodat almal wat daarop woon, treur,

en dit styg in sy geheel soos die Nyl

en sak terug soos die rivier van Egipte;

6 Hy wat in die hemel sy bokamer bou

en sy hemelkoepel op die aarde vestig;

wat die water van die see roep

en dit uitgiet oor

die oppervlakte van die aarde –

Here is sy Naam.

7 “Israeliete, is julle nie maar

vir My soos die Kussiete nie?”

is die uitspraak van die Here.

“Het Ek nie Israel uit Egipteland

laat optrek

en die Filistyne uit Kaftor

en die Arameërs uit Kir nie?”

8 Kyk, die oë van my Heer, die Here,

is gerig op die sondige koninkryk.

“Ek sal dit van die aardbodem af uitroei;

nogtans sal Ek die huis van Jakob

nie heeltemal uitroei nie,”

is die uitspraak van die Here.

9“ Ja, kyk, Ek gee bevel,

en Ek gaan onder al die nasies

die huis van Israel skud

asof hy in 'n sif geskud word,

maar nie 'n klippie sal op die grond

val nie.

10 Deur die swaard

sal al die sondaars

van my volk sterf,

hulle wat sê,

‘Die onheil sal ons nie bereik nie,

nie tot by ons kom nie.’ ”

Herstel van Israel

11“ Op daardie dag

sal Ek die vervalle skuiling

van Dawid herstel.

Ek sal die bresse toebou

en die ruïnes herbou om te wees

soos in die dae van weleer,

12 sodat hulle dié wat oorgebly het

van Edom en al die nasies

oor wie my Naam uitgeroep is,

in besit kan neem,”

is die uitspraak van die Here,

wat dit gaan doen.

13 “Kyk, daar kom dae,”

is die uitspraak van die Here,

“wanneer die een wat ploeg

die een wat graan oes, sal inhaal,

en die een wat druiwe trap

die een wat die saadsak dra.

Die berge sal drup van druiwesap

en die heuwels sal golf van graan.

14 Ek sal die lot van my volk Israel

verander.

Hulle sal hulle verwoeste stede

herbou en bewoon;

hulle sal wingerde plant

en die wyn daarvan drink;

hulle sal tuine aanlê

en die vrugte daarvan eet.

15 Ek sal hulle plant in hulle grond

en hulle sal nie weer verwyder

word van die grond

wat Ek aan hulle gegee het nie,”

sê die Here, jou God.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help