Psalms 96 - Die Bybel 2020-vertaling

1Sing vir die Here 'n nuwe lied,

sing vir die Here, o ganse aarde!

2Sing vir die Here, prys sy Naam,

verkondig sy verlossing

van dag tot dag.

3Maak onder die nasies

sy majesteit bekend,

onder al die volke

sy wonderdade.

4Want groot is die Here

en besonder lofwaardig;

Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode.

5Ja, al die gode van die volke

is niksbeduidend,

maar die Here

het die hemel gemaak.

6Luister en glans

is voor Hom;

krag en heerlikheid

is in sy heiligdom.

7Gee eer aan die Here,

familiegroepe van volke!

Gee eer aan die Here

vir sy heerlikheid en krag!

8Gee eer aan die Here

vir die heerlikheid van sy Naam!

Bring dankbewyse

en gaan sy voorhowe binne.

9Buig in aanbidding voor die Here

in sy glansryke heiligheid!

Bewe vanweë sy teenwoordigheid,

o ganse aarde!

10Sê onder die nasies:

“Die Here regeer;

ja, die wêreld staan vas,

dit wankel nie.

Hy oordeel volke met billikheid.”

11Laat die hemel bly wees,

en die aarde juig;

laat die see en alles daarin

dit uitbasuin.

12Laat die veld en alles daarop

jubel;

dan sal alle bome in die bos

van vreugde uitroep

13voor die Here.

Want Hy kom, ja, Hy kom

om die aarde te oordeel;

Hy sal die wêreld oordeel

in •geregtigheid,

en volke ooreenkomstig sy trou.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help