Jesaja 33 - Die Bybel 2020-vertaling

Oordeel en hoop

1 Wee jou, verwoester,

jy wat nie verwoes is nie,

trouelose, aan wie niemand

ontrou was nie!

Wanneer jy jou verwoestingswerk

voltooi het,

sal jy verwoes word;

wanneer jy ophou

om troueloos te wees,

sal daar troueloos

teen jou opgetree word.

2 Here, wees ons genadig!

Op U wag ons.

Wees elke oggend ons krag,

ja, ons verlossing

in 'n tyd van nood.

3 Vir die geluid van 'n gedreun

vlug volke;

vanweë u verhewenheid

word nasies verstrooi.

4Wat julle gebuit het, nasies,

word bymekaargemaak,

soos kaalvretersprinkane

bymekaarmaak.

Soos swerms toesak,

word op julle buit toegesak.

5 Die Here is verhewe,

ja, Hy woon in die hoogte.

Hy vul Sion

met reg en geregtigheid.

6Hy sal bestendigheid

aan jou tye bied,

'n rykdom van bystand,

wysheid en kennis,

ontsag vir die Here –

dit is sy skatte.

7 Kyk, die mense van Jerusalem

roep om hulp op straat,

die boodskappers van vrede

huil bitterlik.

8Gebaande weë was verlate,

niemand het meer op die pad

verbygegaan nie.

Hy het verdrae verbreek,

hy het stede geminag,

hy het mense nie geag nie.

9 Dit het droog geword,

die land was uitgedor;

die Libanon was verbluf,

het swart geword.

Saron het soos die Araba

geword;

Basan en Karmel

het hulle blare verloor.

10 “Nou gaan Ek opstaan,”

sê die Here,

“nou gaan Ek Myself verhef,

nou gaan Ek My oprig.

11Julle raak swanger van droë gras,

gee geboorte aan kaf;

julle asem is 'n vuur

wat julle sal verteer.

12 Die volke

sal 'n kalkbrandery word –

afgekapte doringstruike

wat 'n vuur aan die brand

moet kry.

13Luister, julle wat ver is,

na wat Ek gedoen het;

en julle wat naby is,

erken my mag.”

14 In Sion sidder sondaars

van angs;

bewing pak hulle beet,

hulle wat vervreemd is van God:

“Wie van ons kan

by 'n verterende vuur vertoef?

Wie van ons kan

by 'n ewig brandende

vuurherd vertoef?”

15 Hy wat eerlik leef

en spreek wat reg is,

wat wins uit afpersing afwys,

wat sy handpalms daarvan

weerhou om omkoopgeld

te aanvaar,

wat niks van bloedvergieting

wil hoor nie,

niks wat boos is,

wil aanskou nie –

16dit is hy wat op die hoogtes

sal woon.

Bergvestings in kranse

is sy toevlugsoord;

sy kos word vir hom voorsien,

sy watervoorraad

is standhoudend.

17Jou eie oë sal 'n koning

in sy skoonheid sien,

sal uitkyk oor 'n wyd

uitgestrekte land.

18 Jou hart sal die verskrikking

oordink:

Waar is hy wat neerskryf,

waar hy wat weeg?

Waar is hy wat die getal

van die torings neerskryf?

19 Dié aanmatigende volk

sal jy nie weer sien nie,

die volk met spraak

wat te moeilik is om te volg,

met 'n gestamel van tong

wat onverstaanbaar is.

20Kyk na Sion, die stad

van ons feestelike byeenkomste!

Jou oë sal Jerusalem sien –

'n ongestoorde tuiste,

'n tent wat nie afgeslaan sal word,

waarvan die tentpenne

nooit uitgetrek,

en die tentlyne

nooit losgeruk sal word nie;

21want daar sal 'n magtige,

die Here, by ons wees,

by 'n plek van riviere,

met breë strome aan alle kante.

'n Boot met spane

sal nie daarop vaar nie,

'n magtige skip

sal dit nie oorsteek nie.

22Ja, die Here is ons Regter,

die Here is ons Regeerder,

die Here is ons Koning –

Hy sal ons verlos.

23Al hang jou takelwerk nou slap,

al hou dit nie die mas se voetstuk

stewig nie,

al span dit nie die banier

oop nie,

dan sal daar buit in oorvloed

verdeel word;

selfs lammes sal wat te roof is,

plunder.

24 Geen inwoner sal sê,

“Ek is siek” nie.

Die volk wat in Jerusalem woon,

se sondeskuld is vergewe.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help