Jesaja 31 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Wee hulle wat na Egipte afgaan

vir hulp,

wat op perde staatmaak,

hulle vertroue plaas op strydwaens,

omdat daar baie is,

en op perderuiters,

omdat hulle besonder talryk is.

Maar hulle sien nie op

na die Heilige van Israel nie;

hulle raadpleeg nie die Here nie.

2Maar ook Hy is wys,

en Hy bring onheil;

sy woorde herroep Hy nie.

Hy sal optree teen 'n huis

van boosdoeners,

en teen die hulp van hulle

wat onreg pleeg.

3Die Egiptenare is mense,

nie God nie;

hulle perde is vlees

en nie gees nie.

En die Here –

as Hy sy hand uitstrek,

struikel die helper,

val dié een wat gehelp word;

saam gaan hulle almal tot niet.

4Ja, so het die Here vir my gesê:

“Soos 'n leeu grom,

'n jong leeu by sy prooi

– al word 'n hele groep herders

teen hom saamgeroep,

vir hulle geskreeu

word hy nie bang nie,

en vir hulle geraas

krimp hy nie ineen nie –

so sal die Here, Heerser oor alle magte,

neerdaal om te veg

op die berg Sion,

op die Sionsheuwel.

5 Soos voëls bo hulle neste hang,

so sal die Here, Heerser oor alle magte,

Jerusalem beskerm.

Hy sal beskerm en uitred,

spaar en laat ontkom.

6“Keer terug na Hom,

teen wie die Israeliete

uiters onversetlik was.

7 Ja, op daardie dag sal elkeen sy nuttelose afgodsbeelde van silwer en goud verwerp, die beelde wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het.

8 Assirië sal val deur die swaard,

maar nie dié van 'n man nie;

en 'n swaard,

nie dié van 'n mens nie,

sal hom verteer.

Hy sal vir sy lewe vlug

voor die swaard,

en sy jong manne

sal dwangarbeid verrig.

9Sy rots sal vanweë ontsetting

vergaan,

sy •aanvoerders

sal angsbevange wees

by die sien van 'n banier. ”

Dit is die uitspraak van die Here,

wie se vuur in Sion,

en wie se oond in Jerusalem is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help