Sefanja 1 - Die Bybel 2020-vertaling

Opskrif

1Dit is die woord van die Here aan Sefanja, seun van Kusi, seun van Gedalja, seun van Amarja, seun van Hiskia in die tyd van Josia, seun van Amon, koning van Juda.

Oordeel op die dag van die Here

2“Ek gaan beslis alles

van die aardbodem af uitwis, ”

is die uitspraak van die Here.

3 “Ek gaan mens en dier uitwis.

Ek gaan die voëls van die hemel

en die visse in die see uitwis –

ook die struikelblokke

saam met die goddeloses.

Ek gaan die mensdom uitdelg

van die aardbodem af,”

is die uitspraak van die Here.

4“Ek gaan my hand teen Juda

en al die inwoners

van Jerusalem uitstrek.

Ek gaan uit hierdie plek alles

wat van Baäl oorgebly het, uitroei,

die name van die afgodsdienaars,

asook die priesters.

5 Ook diegene wat op die dakke

voor die hemelliggame

neerbuig;

diegene wat neerbuig,

wat by die Here 'n eed sweer

én ook by hulle koning

'n eed sweer;

6diegene wat van die Here af

weggedraai het,

hulle wat die Here nie opsoek nie

en Hom nie raadpleeg nie.”

7Wees stil voor my Heer, die Here,

want die dag van die Here is naby.

Ja, die Here het 'n offer voorberei;

Hy het sy genooides geheilig.

8“En op die Here se offerdag

gaan die volgende gebeur:

Ek gaan afreken met die leiers,

met die koning se seuns

en almal wat uitlandse klere dra.

9Ek gaan op daardie dag

afreken met elkeen

wat oor die drumpel spring,

wat die huis van hulle heersers

met geweld en bedrog vul.

10“Op daardie dag,”

is die uitspraak van die Here,

“klink daar 'n noodkreet

uit die Vispoort,

'n gekerm uit die nuwe stadsdeel,

'n groot gekraak uit die heuwels.

11Weeklaag, inwoners

van die markdistrik,

want al die handelaars

het stil geword;

almal wat silwer afweeg,

is uitgeroei.

12In daardie tyd gaan dít gebeur:

Ek gaan Jerusalem

met lampe fynkam,

Ek gaan afreken met die manne

wat verdik op hulle droesem,

wat in hulle hart sê,

die Here doen nie goed nie

en Hy doen nie kwaad nie.

13 Hulle rykdom gaan buit word

en hulle huise sal verlate staan.

Hulle gaan huise bou,

maar nie daarin woon nie;

hulle gaan wingerde plant,

maar nie die wyn daarvan

drink nie.

14“ Naby is die groot

dag van die Here,

naby en baie vinnig aan die kom.

Luister! Die dag van die Here!

Dan skreeu die held bitterlik!

15 Daardie dag is 'n dag van gramskap,

'n dag van benoudheid en kwelling;

'n dag van verwoesting

en vernietiging,

'n dag van duisternis en donkerte,

'n dag van wolke en diepe duisternis,

16 'n dag waarop die •ramshoring

en oorlogskrete

oor die versterkte stede

en oor die hoë hoektorings weergalm.

17“ Ek gaan die mensdom

in die noute bring,

hulle sal soos blindes voortstrompel,

want hulle het teen die Here

gesondig.

Hulle bloed sal uitgegiet word

soos stof,

hulle ingewande soos uitwerpsel.

18 “Nóg hulle goud, nóg hulle silwer

sal hulle kan red

op die dag van die Here se gramskap.

In die vuur van sy drif

sal die hele aarde verteer word;

ja, 'n gruwelike verwoesting

bring Hy oor al die aardbewoners.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help