Jesaja 62 - Die Bybel 2020-vertaling

1Ter wille van Sion

sal ek nie swyg nie,

ter wille van Jerusalem

nie rus nie,

totdat haar geregtigheid deurbreek

soos 'n helder lig,

haar verlossing brand

soos 'n fakkel.

2 Nasies sal jou geregtigheid sien,

en al die konings jou roem.

Aan jou sal 'n nuwe naam gegee word;

die mond van die Here self

sal dit bepaal.

3 Jy sal 'n sierlike erekroon wees

in die hand van die Here,

'n kosbare koninklike hoofband

in die handpalm van jou God.

4 Mense sal nie meer vir jou sê

“Verlatene” nie,

en vir jou land nie meer sê

“Woesteny” nie;

maar jy sal genoem word

“My Vreugde is in Haar”,

en jou land “Getroude”.

Want die Here vind vreugde in jou,

en jou land sal getroud wees;

5ja, soos 'n jong man trou

met 'n jong meisie,

sal jou kinders met jou trou.

Met die vreugde van 'n bruidegom

oor sy bruid,

sal jou God Hom oor jou verheug.

6 Op jou stadsmure, Jerusalem,

het ek wagte uitgesit.

Dwarsdeur die dag en nag

sal hulle nie 'n oomblik lank swyg nie.

Julle wat die Here herinner

aan sy beloftes,

gun julleself geen rus nie!

7Gun Hom ook geen rus nie,

totdat Hy haar gevestig het,

totdat Hy Jerusalem

'n loflied op aarde gemaak het!

8 Die Here het 'n eed afgelê

by sy regterhand,

by sy kragtige voorarm:

“Ek sal nie meer jou koring as

voedsel aan jou vyande gee nie,

en vreemdes sal nie meer

jou •nuwe wyn drink

waarvoor jy jou vermoei het nie.

9 Maar wie insamel, sal eet,

en hulle sal die Here loof.

Wie druiwe oes,

sal die nuwe wyn drink

in my heilige voorhowe.”

10Gaan deur, gaan deur die poorte,

maak die pad vir die volk gereed.

Vul op, vul die grootpad op!

Vul dit op!

Verwyder die klippe!

Hou 'n banier omhoog vir die volke.

11Kyk, die Here laat dit hoor

tot by die einde van die aarde:

“Sê vir die dogter van Sion,

‘Kyk, jou verlossing kom!

Kyk, sy vergoeding is by Hom,

sy beloning is voor Hom. ’ ”

12Hulle sal genoem word

Heilige Volk,

Losgekooptes van die Here.”

En jy, Jerusalem,

sal genoem word Gesogte,

Stad wat nie Verlate is nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help