Jesaja 7 - Die Bybel 2020-vertaling

Oordeel en redding

1 In die tyd van Agas, seun van Jotam, seun van Ussia, die koning van Juda, het Resin, die koning van Aram, asook Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, teen Jerusalem opgetrek vir oorlog. Hulle was egter nie in staat om teen haar te veg nie.

2Toe die berig aan die huis van Dawid gebring is, “Aram het by Efraim aangesluit, ” het Agas se hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van 'n bos voor wind bewe.

3 Die Here het vir Jesaja gesê: “Gaan tog uit om Agas te ontmoet, jy en Sjear-Jasjoeb, jou seun, by die einde van die watervoor na die boonste dam wat aan die pad na die Bleikveld geleë is.

4 Sê vir hom, ‘Wees versigtig, maar bly kalm! Moenie bang wees nie! Moenie lafhartig raak oor hierdie twee rokende houtstompe nie, oor die brandende toorn van Resin en die Arameërs en die seun van Remalja nie,

5omdat Aram teen jou kwaad beplan het, ook Efraim en die seun van Remalja, met die woorde:

6“Laat ons teen Juda optrek, hulle die skrik op die lyf jaag en dit dan vir ons verower. Laat ons dan 'n koning daarin aanstel, die seun van Tabeal.” ’

7“ So sê my Heer, die Here,

‘Dit sal nie tot stand kom nie,

dit sal nie gebeur nie.

8 Immers, die hoof van Aram

is Damaskus,

en die hoof van Damaskus

is Resin.

Nog vyf-en-sestig jaar,

dan is Efraim vernietig

en nie meer 'n volk nie.

9Die hoof van Efraim is Samaria,

en die hoof van Samaria

is die seun van Remalja.

As julle nie vertroue het nie,

sal julle beslis nie behoue bly nie.’ ”

10Die Here het weer met Agas gepraat en gesê:

11 “Vra vir jou 'n teken van die Here jou God; vra diep af na die •doderyk, of hoog na bo. ”

12 Maar Agas het geantwoord: “Ek sal nie vra nie, en ek sal die Here nie uitdaag nie.”

13Daarop sê Jesaja: “Luister tog, huis van Dawid! Is dit nie vir julle genoeg om mense te vermoei nie, dat julle ook my God moet vermoei?

14 Daarom sal my Heer self vir julle 'n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan 'n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.

15 Dikmelk en heuning sal hy eet, sodat hy kan weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies.

16 Ja, nog voordat die kind sal weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê.

17Die Here sal egter dae soos daar nie was sedert die tyd toe Efraim van Juda weggebreek het nie, laat aanbreek oor jou, jou volk en jou familie: die koning van Assirië!

18“ Op daardie dag

sal die Here fluit vir die vlieë

wat aan die einde van die

strome van Egipte is,

en vir die bye

wat in die land Assirië is.

19Hulle sal kom en almal gaan sit

in die dale by die kranse,

in die rotsskeure,

en op al die doringbosse

en by al die drinkplekke.

20“ Op daardie dag sal my Heer

met 'n skeermes wat gehuur is

anderkant die Rivier,

met die koning van Assirië,

die kop en hare van die voete

afskeer;

dit sal ook die baard verwyder.

21“ Op daardie dag

sal iemand 'n jong koei

en twee stuks kleinvee

aan die lewe hou;

22en vanweë die oorvloed van melk

wat hulle gee,

sal hy dikmelk eet.

Ja, dikmelk en heuning sal almal eet

wat in die land oorgebly het.

23“ Op daardie dag

sal elke plek waar daar

duisend wingerdstokke is,

wat duisend silwerstukke werd is,

aan die doringstruike

en onkruid behoort.

24Met pyl en boog sal mens

daar moet ingaan.

Ja, van doringstruike en onkruid

sal die hele land oortrek wees.

25Al die heuwels

wat met 'n ploegskaar bewerk is –

jy sal daar nie ingaan nie,

uit vrees vir die doringstruike

en onkruid.

Dit sal dien as weiplek vir beeste

en as 'n plek wat vertrap word

deur kleinvee.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help