Jesaja 66 - Die Bybel 2020-vertaling

1 So sê die Here:

“Die hemel is my troon,

en die aarde die voetbank

van my voete.

Waar is die huis

wat julle vir My sou bou,

en waar is my rusplek?

2Al hierdie dinge –

my hand het dit gemaak;

so het alles ontstaan,”

is die uitspraak van die Here.

“Op so iemand sal Ek ag slaan:

op 'n magtelose met 'n verslae gees,

wat sidder vir my woord.

3“ Iemand slag 'n bul,

en vel 'n mens neer;

bring 'n lam as maaltydoffer,

en breek die nek van 'n hond;

bring 'n •graanoffer,

en ook die bloed van varke;

bring wierook

as simboliese offer,

en prys 'n valse god aan.

Aangesien hierdie mense

hulle eie paaie gekies het,

en hulle sielsgelukkig is

met hulle verfoeilike afgode,

4 sal ook Ek kies om hulle streng

te behandel;

en dit wat hulle vrees

sal Ek oor hulle bring.

Want toe Ek geroep het,

het niemand geantwoord nie;

toe Ek gepraat het,

het hulle nie geluister nie.

Hulle het gedoen wat verkeerd is

in my oë,

en wat onaanvaarbaar is vir My,

het hulle gekies.”

5 Hoor die woord van die Here,

julle wat sidder vir sy woord:

“Julle volksgenote wat julle haat,

wat julle verstoot ter wille van

my Naam, het gesê,

‘Laat die Here verheerlik word,

sodat ons julle vreugde

kan aanskou!’

Maar self sal hulle beskaamd staan.”

6 Die geluid van 'n rumoer uit die stad!

'n Geluid uit die •tempel!

Die stem van die Here

wat met sy vyande afreken

volgens wat hulle verdien!

7 Nog voordat sy ineenkrimp,

het sy reeds geboorte gegee;

nog voordat die geboortepyne

haar oorval,

het sy 'n seun in die wêreld

gebring.

8Wie het al van so iets gehoor?

Wie het al sulke dinge gesien?

Word 'n land op een dag gebore;

of word 'n volk eensklaps

in die wêreld gebring?

Ja, net toe sy ineenkrimp,

het Sion ook geboorte gegee

aan haar kinders.

9“Sal Ek wat die water laat breek,

nie geboorte laat gee nie?”

vra die Here.

“Of sal Ek, wat geboorte laat gee,

die geboorte terughou?”

vra jou God.

10“ Wees verheug saam met Jerusalem,

en juig oor haar,

almal wat haar liefhet!

Wees besonder bly saam met haar,

almal wat oor haar getreur het,

11 sodat julle kan suig

aan haar vertroostende borste,

en versadig kan raak,

sodat julle kan drink

en julle kan verkwik

aan haar vol, ryk borste.”

12Want so sê die Here:

“Kyk, Ek gaan vrede na haar toe

afkeer soos 'n rivier,

die luister van nasies

soos 'n spruit in vloed;

en julle sal drink.

Op die heup sal julle gedra word,

en op knieë gewieg word.

13Soos iemand se moeder hom troos,

so sal Ek self julle troos;

in Jerusalem sal julle getroos word.

14As julle dit sien, sal julle harte

bly wees;

julle gebeente sal soos groen plante

gedy.”

Die mag van die Here sal bekend

wees by sy diensknegte,

en Hy sal sy vyande vervloek.

15 Want kyk, die Here

sal met vuur kom,

en soos 'n stormwind

is sy strydwaens,

om met woede sy toorn te laat geld,

en sy dreigement

kom met vuurvlamme.

16 Ja, met vuur en sy swaard

gaan die Here die saak bereg

met alle mense.

Talryk sal dié wees wat deur

die Here verslaan word.

17“ Dié wat hulleself heilig en hulle reinig om na die tuine te gaan, agter een aan wat in die middel is, terwyl hulle varkvleis, weersinwekkende dinge en muise eet, sal saam tot 'n einde kom,” is die uitspraak van die Here.

18“ En Ek? Wat hulle dade en gedagtes betref, die vuur is aan die kom om al die nasies en tale bymekaar te dryf. Hulle sal kom en my heerlikheid sien.

19Ek sal onder hulle 'n teken oprig, en sommige van dié wat oorleef, stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud – hulle wat die boog span – na Tubal en Jawan, die verre eilande wat nog nie van my roem gehoor en my heerlikheid nog nie gesien het nie. Hulle sal my heerlikheid onder die nasies bekend maak.

20 Hulle sal al julle volksgenote uit al die nasies, as die Here se geskenk, op perde en strydwaens, op waens, muile en kamele, na my heilige berg, Jerusalem, bring,” sê die Here, “net soos die Israeliete die graanoffer in rein houers na die huis van die Here bring.

21 Ek sal sommige van hulle selfs as priesters en Leviete neem,” sê die Here.

22 “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, voor My sal bly voortbestaan,” is die uitspraak van die Here, “so sal julle nageslag en julle naam bly voortbestaan.

23En dan, van nuwemaan tot nuwemaan, van Sabbat tot Sabbat, sal alle mense kom om voor My in aanbidding te buig,” sê die Here.

24 “Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help