Psalms 83 - Die Bybel 2020-vertaling

1'n Lied. 'n Psalm. Van Asaf.

2 O God, moet tog nie stilbly nie;

moet U nie doof hou nie

en moenie stil wees nie, o God.

3Want kyk, u vyande is rumoerig,

u haters loop kop omhoog.

4Teen u volk maak hulle listig planne,

hulle beraadslaag teen dié

wat deur U beskerm word.

5Hulle het gesê:

“Kom ons wis hulle uit as 'n nasie

sodat die naam Israel nie meer

onthou word nie.”

6Ja, hulle het eendragtig saamgespan;

teen U het hulle 'n verdrag gesluit:

7die tente van Edom

en die Ismaeliete, Moab

en die nageslag van Hagar,

8Gebal, Ammon en Amalek,

Filistea en ook die inwoners

van Tirus.

9Ook Assirië het by hulle aangesluit;

hulle het die nageslag van Lot

die hand gereik.

10Maak met hulle soos met Midian,

soos met Sisera, soos met Jabin

by die spruit Kison.

11Hulle is uitgedelg by En-Dor,

hulle het mis geword vir die grond.

12Maak met hulle,

met hulle vooraanstaandes,

soos met Oreb en Seëb,

met al hulle stamhoofde

soos met Seba en Salmunna,

13wat gesê het:

“Laat ons die weivelde van God

in besit neem.”

14My God, maak hulle soos tolbosse,

soos kaf voor die wind.

15Soos vuur 'n bos verbrand,

soos 'n vlam berge aan die brand steek,

16so moet U hulle agtervolg

met u stormwind,

hulle met u storm in verwarring bring.

17Bedek hulle gesigte met skande,

sodat hulle kan vra na u Naam, Here.

18Laat hulle vir altyd beskaamd

staan en verskrik wees;

laat hulle in die skande kom

en ten gronde gaan.

19Dan sal hulle weet dat net U,

wie se Naam Here is,

die Allerhoogste is

oor die hele wêreld.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help