Job 9 - Die Bybel 2020-vertaling

Job se antwoord op Bildad se eerste betoog

1Job het hierop gereageer en gesê:

2“Inderdaad! Ek weet dat dit so is.

Maar hoe kan 'n sterfling voor God

die reg aan sy kant hê?

3As iemand graag 'n regstryd

met Hom wil voer,

sal hy hom nie eers

een uit 'n duisend keer kan verweer nie.

4 God wat wys van hart en sterk in vermoë is –

wie was al in verset teen Hom

en het ongedeerd daarvan afgekom?

5 Hy is die een wat berge verskuif

sonder dat hulle dit agterkom,

wat hulle in sy toorn omkeer;

6 Hy wat die aarde uit sy plek skud,

sodat sy pilare bewe;

7 Hy wat die son aanspreek,

sodat dit nie skyn nie,

en wat so die sterre verseël;

8 wat die hemel oopspan, Hy alleen,

wat op die see se rûe trap;

9 wat die sterrebeeld van die

Leeu, Orion en die Sewester gemaak het,

ook die kamers van die suide;

10 wat groot en ondeurgrondelike dinge,

ontelbare wonders, doen.

11 Kyk, Hy kom langs my verby,

maar ek sien Hom nie raak nie.

Hy gaan verby,

maar ek gewaar Hom nie.

12Kyk, Hy ruk weg;

wie kan Hom teenhou?

Wie kan vir Hom sê,

‘Wat doen U?’

13God wend nie sy toorn af nie –

onder Hom kruip die helpers van Rahab.

14 Hoe kan ék my dan

teen Hom verweer,

my woorde in verweer teen Hom kies,

15 ek wat, al het ek gelyk,

my nie sal kan verweer nie?

By my teenstander

moet ek om genade smeek.

16As ek my op Hom beroep,

en Hy antwoord my,

glo ek nie dat Hy

op my roepstem sal ag slaan nie,

17Hy wat my met 'n stormwind vasgryp,

en my wonde sonder rede

meer maak.

18Hy laat my nie toe om my asem

terug te kry nie,

maar versadig my met bitterheid.

19As dit oor krag gaan –

Hy is die Sterke!

As dit oor reg gaan,

sê Hy, ‘Wie kan My dagvaar?’

20 Al het ek gelyk,

verklaar my mond my skuldig;

al tree ek onberispelik op,

toon dit dat ek verkeerd is.

21Ek tree onberispelik op.

Ek gee nie om vir my lewe nie;

ek verag my bestaan.

22 Dit is om't ewe.

Daarom sê ek,

‘Onberispelik of goddeloos –

Hy vernietig albei.’

23As 'n ramp onverwags die dood bring –

Hy dryf die spot met die wanhoop van onskuldiges.

24Die aarde is oorgegee

in die hand van goddeloses;

die gesigte van die aarde se regters bedek Hy.

As dit nie Hy is nie,

wie is dit dan?

25“ My dae is vinniger as 'n hardloper,

dit het weggeglip;

dit het niks goeds opgelewer nie,

26dit gly verby saam met papirusbootjies,

soos 'n arend wat sweef bo 'n prooi.

27 As ek sê,

‘Ek wil my klagte vergeet,

my gesigsuitdrukking verander

en vrolik lyk,’

28word ek bang vir al my lyding:

Ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.

29Ek is die een wat skuldig sal bly.

Waarom sou ek my dan nog vermoei vir niks?

30Al was ek my met sneeuwater,

en reinig my hande met potas,

31sal U my steeds in 'n kuil

dompel,

sodat selfs my klere my afstootlik vind.

32“ Ja, Hy is nie 'n mens, soos ek,

dat ek my teenoor Hom kan verweer,

en ons saam na die gereg kan gaan nie.

33As daar maar iemand was

wat die saak tussen ons kon besleg,

wat sy hand oor ons albei kon hou!

34 God sou sy staf van my moes verwyder;

sy verskrikking sou my dan nie ontstel nie.

35Dan kon ek praat

sonder om Hom te vrees;

maar in my geval is dit nie so nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help