Psalms 49 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2 Luister hierna, al julle volke,

gee aandag, almal wat op aarde woon,

3geringes sowel as dié

wat aansien het, ryk en arm saam.

4My mond sal wyse woorde uitspreek;

waaroor my hart nadink,

spreek van insig.

5Ek het 'n oop oor vir spreuke;

onder lierspel sal ek my raaisel oplos.

6Waarom sou ek bang wees

in dae van onheil

wanneer die wandade

van bedrieërs my omring,

7die wandade van hulle

wat op hulle besittings vertrou

en met hulle groot rykdom spog?

8Een familielid kan nooit

'n ander vrykoop nie,

hy kan nie aan God die losprys

vir hom betaal nie,

9want die vrykoopprys

vir hulle lewens is te hoog

en hy moet vir altyd daarvan afsien

10dat hy vir ewig kan leef

en die graf nie sal sien nie.

11'n Mens sien immers

dat wyse mense sterf;

saam met die dwaas

en die onverstandige vergaan hulle

en laat hulle besittings aan ander na.

12Hulle graf is hulle tuiste vir altyd,

hulle woning van geslag tot geslag.

Hulle noem stukke grond na hulleself,

13maar 'n mens met skatte

is nie blywend nie;

hy is net soos die diere –

hulle gaan ten gronde;

14dit is hulle lewenspad,

dié wat vol selfvertroue is,

hulle einde,

dié wat van hulle eie uitsprake hou. •Sela

15Soos kleinvee is hulle

vir die •doderyk bestem,

die dood is hulle herder,

teen die môre heers opregtes oor hulle.

Hulle liggame is bestem

vir vertering deur die doderyk,

ver van hulle indrukwekkende wonings.

16Maar God sal my lewe vrykoop

uit die mag van die doderyk,

ja, Hy sal my wegneem. •Sela

17Moenie bang wees

as iemand ryk word,

as hy die rykdom van sy huis

vermeerder nie;

18want hy sal niks daarvan

in sy dood saamneem nie,

sy rykdom sal hom nie na benede

volg nie.

19Al wens hy in sy lewe

homself geluk en sê,

“Hulle moet jou prys,

want jy doen goed vir jouself,”

20sal hy by sy voorgeslagte aankom.

Vir ewig sal hulle die lig nie sien nie.

21Maar 'n mens met skatte

het nie insig nie;

hy is net soos die diere –

hulle gaan ten gronde.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help