Hosea 12 - Die Bybel 2020-vertaling

Verdere aanklagte

1 “Efraim het My omring met leuens,

en die huis van Israel met bedrog.

Juda is steeds bandeloos teenoor God,

maar teenoor die heiliges is hy getrou.

2Efraim pas die wind op,

hy loop heeldag agter die oostewind aan.

Al wat hy vermeerder,

is leuens en verwoesting.

Met Assirië sluit hulle 'n verdrag,

maar olie word na Egipte gestuur.”

3 Die Here het 'n regsaak teen Juda,

en Hy gaan Jakob tot verantwoording roep

oor sy optrede;

Hy gaan hom vergeld volgens sy dade.

4In die moederskoot het hy al sy broer

aan die hakskeen vasgehou,

en in sy manlike krag

het hy met God geworstel.

5 Hy het met die Engel geworstel

en het oorwin;

want hy het gehuil en Hom

om genade gesmeek:

“By Bet-El sal Hy hom ontmoet,

daar sal Hy met ons praat.

6 Die Here, die God van alle magte,

Here is sy gedenknaam.”

7 Maar jy, na jou God moet jy terugkeer.

Lê jou toe op troue liefde en wat reg is,

en wag altyddeur op jou God.

8“ Kanaän – in sy hand

is daar 'n vals weegskaal;

hy hou daarvan om uit te buit.

9Efraim sê, ‘Ja, ek het ryk geword;

ek het self welvarend geword.

Alles wat ek met moeite verkry het –

niks kan gevind word wat as sondeskuld

teen my gehou word,

wat as 'n oortreding geld nie.’

10 Maar Ek is die Here jou God

– al van Egipteland af.

Ek sal jou weer in tente laat woon

soos in die feestyd.

11 Ek het met die profete gepraat;

Ek het dit deur baie visioene gedoen,

en deur profete tref Ek vergelykings.

12 Is Gilead boos?

Hulle het heeltemal tot niet gegaan.

In Gilgal het Efraim selfs bulle geoffer;

ook hulle altare sal kliphope word

in die slote in die veld.

13 Jakob het gevlug

na die veld van Aram;

Israel moes dienswerk doen

om 'n vrou te verkry;

ja, om 'n vrou te verkry,

moes hy kleinvee oppas.

14 Deur 'n profeet het die Here

Israel uit Egipte laat optrek;

ja, deur 'n profeet is hulle opgepas.”

Ondergang van Israel

15 Efraim het uiters beledigend opgetree.

Sy Heer hou hom verantwoordelik

vir sy bloedskuld;

Hy sal hom vergeld vir sy uittarting.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help