Job 14 - Die Bybel 2020-vertaling

1“ 'n Mens, gebore uit 'n vrou,

se lewensdae is van korte duur

en vol onrus.

2 Soos 'n blom kom hy op

en verwelk;

soos 'n skaduwee verdwyn hy

en hou nie stand nie.

3 Ja, op so een hou U u oë gerig,

hom betrek U in 'n regsaak met U.

4 Wie kan iets reins uit iets onreins

laat voortkom?

Niemand nie!

5As sy lewensdae dan vasgestel is,

die getal van sy maande

by U vasstaan;

as U sy grens bepaal het

wat hy nie kan oorskry nie,

6 kyk dan weg van hom af,

sodat hy kan ophou werk,

totdat hy soos 'n dagloner

tevrede is met sy dag.

7 Ja, vir 'n boom is daar hoop:

As hy afgekap word,

loop hy weer uit,

sy jong lote hou nie op uitspruit nie.

8Al word sy wortel oud

in die grond,

en al gaan sy stomp dood

in die grond,

9van die reuk van water

spruit hy uit,

maak hy lote soos 'n jong plant.

10Maar 'n man sterf en is magteloos;

'n mens kom om –

en waar is hy dan?

11 Water verdwyn uit 'n see,

en 'n rivier droog op en lê uitgedor;

12 so gaan lê 'n mens

en staan nie weer op nie.

Tot die hemel nie meer daar is nie,

word hulle nie wakker nie,

word hulle nie wakker gemaak

uit hulle slaap nie.

13“As U my maar in die •doderyk wou wegsteek,

my verberg totdat u toorn bedaar het,

'n vasgestelde tyd vir my bepaal,

en my dan onthou!

14As 'n man sterf, sal hy weer leef?

Al die dae van my dwangarbeid

sou ek wag tot die einde van my skof.

15 U sou roep en ek,

ek sou U antwoord;

na u handewerk sou U verlang.

16 Alhoewel U nou my treë tel,

sou U nie my sonde dophou nie.

17Verseël in 'n sak

sou my oortreding wees;

U sou my sondeskuld toepleister.

18“Maar 'n berg stort ineen

en verkrummel,

'n rots verskuif uit sy plek;

19water verweer selfs klippe,

stortreën spoel die stof

van die grond weg –

net so laat U 'n sterfling se hoop

tot niet gaan.

20U oorweldig hom vir altyd,

en hy gaan heen;

U verander sy gelaat

en stuur hom weg.

21 Sy seuns word vereer,

maar hy weet dit nie;

hulle word verkleineer,

maar hy merk dit nie op nie.

22Sy liggaam ervaar egter pyn,

en hy treur net oor homself.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help