Jesaja 23 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesieë oor Tirus en Sidon

1 Profesie oor Tirus.

Weeklaag, handelskepe!

Want dit is verwoes,

sonder huise, sonder toegang.

In die land van die Kittiërs

is aan hulle berig gebring.

2Wees stil,

bewoners van die eiland!

Handelaars van Sidon

wat die see oorsteek,

het jou, Tirus, gevul.

3Met die groot waters langs

was die saad van Sigor,

ja, die oes van die Nyl,

haar inkomste –

dit was wins uit die nasies.

4Skaam jou, Sidon!

Want, toevlugsoord van die see,

die see sê:

“Ek het nie ineengekrimp,

nie geboorte gegee nie;

ek het nie jong manne grootgemaak,

nie jong meisies opgevoed nie.”

5 Wanneer die berig Egipte bereik,

krimp hulle ineen

soos met die tyding oor Tirus.

6Vaar oor na Tarsis!

Weeklaag, bewoners van die eiland!

7Is dít julle uitgelate stad?

In die verre verlede

lê haar oorsprong;

haar voete het haar gedra

om tydelik ver weg te woon.

8 Wie het so teen Tirus besluit,

sy wat krone uitdeel,

wie se handelaars

•hoë amptenare is,

wie se handelslui

die geëerdes van die wêreld is?

9Die Here, Heerser oor alle magte,

het so besluit –

om die hoogmoed

van al die hoëlui te knou,

om al die geëerdes van die wêreld

met minagting te behandel.

10Bewerk jou grond soos by die Nyl,

dogter van Tarsis!

Daar is geen skeepswerf meer nie.

11Sy hand het Hy oor die see

uitgestrek;

Hy het koninkryke laat bewe.

Die Here self het 'n opdrag gegee

oor Kanaän –

dat sy vestings verdelg moet word.

12Hy het gesê:

“Jy sal nie meer uitgelate wees nie,

onteerde maagdelike dogter

van Sidon.

Die Kittiërs, as jy gereedmaak,

na hulle oorvaar –

ook daar sal jy geen rus hê nie.”

13 Kyk, die land van die Galdeërs –

dié volk bestaan nie meer nie.

Assirië het dit vir woestyndiere

bestem:

Hulle het beleëringstorings opgerig;

hulle het die land se vestings gesloop,

dit 'n bouval gemaak.

14Weeklaag, handelskepe!

Want julle toevlugsoord is verwoes.

15Op daardie dag sal Tirus vergete raak,

sewentig jaar lank,

soos die lewensdae

van een koning.

Aan die einde van sewentig jaar

sal dit met Tirus gaan

soos in die lied

oor die prostituut:

16“Neem 'n lier,

deurkruis die stad,

vergete prostituut;

bespeel dit goed,

sing baie liedjies,

sodat jy onthou word!”

17 Ná verloop van sewentig jaar sal die Here aan Tirus aandag gee. Sy sal terugkeer na haar hoereloon, sy sal hoereer met al die koninkryke van die wêreld oor die oppervlakte van die aarde heen.

18Haar handelswins en hoereloon sal aan die Here gewy wees. Dit sal nie opgegaar of weggesit word nie, maar aan hulle wat in die teenwoordigheid van die Here woon, sal haar wins behoort, sodat hulle genoeg kan eet en pragtig geklee kan gaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help