Psalms 7 - Die Bybel 2020-vertaling

1'n Sjighajoon. Van Dawid. Wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van die woorde van Kus, 'n Benjaminiet.

2 Here, my God, by U skuil ek;

verlos my van almal

wat my agtervolg, en red my,

3anders verskeur hulle my

soos 'n leeu wat sy prooi wegsleep;

en daar is niemand wat kan red nie.

4 Here, my God,

as ek iets gedoen het,

as daar onreg aan my hande kleef,

5as ek my vriend kwaad

aangedoen het,

my teenstander sonder rede

beroof het,

6mag die vyand my dan agtervolg

en inhaal,

my lewe in die grond vertrap,

en my eer deur die modder sleep. •Sela

7Staan op, Here, in u toorn,

tree op teen die woedebuie

van my teenstanders,

word wakker, my God;

U vel die oordeel!

8Laat nasies rondom U vergader;

keer terug na u verhewe plek bo hulle.

9Die Here spreek reg oor volke.

Oordeel my op grond van

my geregtigheid, Here,

op grond van my onberispelikheid,

Verhewene.

10Beëindig tog die boosheid

van goddeloses;

maar hou die regverdiges staande,

U wat hart en niere toets,

o regverdige God!

11God is my skild,

Hy wat die opregtes van hart verlos.

12God is 'n regverdige regter –

'n God wat elke dag

sy verontwaardiging toon.

13As iemand hom nie bekeer nie,

maak Hy sy swaard skerp,

span Hy sy boog

en lê daarmee aan.

14Hy maak vir Hom

dodelike wapens gereed;

Hy maak van sy pyle brandpyle.

15Kyk, wie bevrug raak met onreg

en swanger is van gemeenheid,

gee geboorte aan bedrog.

16Wie 'n put grawe en dit uithol,

val in die vangkuil wat hy gemaak het.

17Sy gemeenheid kom

op sy eie kop neer;

op sy skedel kom sy geweld neer.

18Ek wil die Here prys

vir sy regverdige optrede;

ek wil die Naam van die Here,

die Allerhoogste, besing.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help