Jeremia 31 - Die Bybel 2020-vertaling

1“In daardie tyd,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek 'n God wees vir al die familiegroepe van Israel, en hulle sal vir My 'n volk wees.”

2So sê die Here:

“Die volk wat aan die swaard ontkom het,

het genade gevind in die woestyn.

Israel is op pad om rus te vind.

3Van ver af het die Here

aan hom verskyn.

“Met 'n ewige liefde het Ek jou liefgehad;

daarom het Ek jou

in troue liefde nadergetrek.

4Ek sal jou weer herbou,

en jy sal gevestig wees, jongvrou Israel.

Jy sal jou weer versier

met jou tamboeryne,

en uitgaan in die kring van die dansers.

5 Jy sal weer wingerde plant

op die berge van Samaria.

Hulle wat plant,

sal die eerste vrugte daarvan geniet.

6 Ja, daar kom 'n dag waarop

die wagte op die bergland

van Efraim sal uitroep,

‘Maak gereed, en laat ons opgaan

na Sion, na die Here ons God!’ ”

7Ja, so sê die Here,

“Jubel met vreugde oor Jakob!

Juig oor die hoof van die nasies.

Verkondig dit! Sing lof en sê,

‘Verlos u volk, Here,

die oorblyfsel van Israel!’

8 Kyk, Ek gaan hulle bring

uit 'n land in die noorde.

Ek gaan hulle byeenbring vanaf

die uithoeke van die aarde.

Onder hulle sal blindes en kreupeles wees,

vroue wat swanger is en wat geboorte gee –

almal saam.

As 'n groot geloofsgemeenskap

gaan hulle hierheen terugkeer.

9 Met 'n gehuil sal hulle kom,

en onder smeekbedes

sal Ek hulle begelei.

Ek sal hulle bring by waterstrome,

op 'n gelyk pad waarop hulle

nie sal struikel nie.

Want Ek het vir Israel 'n vader geword,

Efraim is my eersgeborene.

10“Hoor die woord van die Here, nasies!

Maak dit bekend op die verste eilande,

en sê, ‘Hy wat Israel verstrooi het,

sal hulle bymekaarmaak

en hulle oppas soos 'n herder sy kudde.’

11 Want die Here het Jakob vrygekoop,

hom losgekoop uit die hand

van een wat sterker is as hy.

12 Hulle sal kom en jubel

op die hoogte by Sion;

hulle sal van vreugde straal

oor die goedheid van die Here,

oor koring, •nuwe wyn en olie,

en oor lammers en beeste.

Hulle sal wees soos 'n natgeleide tuin;

hulle sal nie weer wegkwyn nie.

13 Dan sal jongvroue vreugde vind

in kringdanse,

ook jong manne en ou manne

saam met hulle.

Ek sal hulle rou verander in vrolikheid;

Ek sal hulle troos,

en aan hulle vreugde gee

in die plek van hulle droefheid.

14 Ek sal die priesters verkwik met olie,

en my volk sal met my goedheid

versadig word,’ ”

is die uitspraak van die Here.

15So sê die Here:

“'n Stem word gehoor in Rama,

'n treurlied, 'n bittere gehuil.

Ragel huil oor haar kinders;

sy weier om vertroos te word oor haar kinders,

omdat hulle nie meer daar is nie.”

16So sê die Here,

“Weerhou jou stem daarvan om te huil,

jou oë daarvan om trane te stort;

want daar is beloning vir jou geswoeg,”

is die uitspraak van die Here;

“hulle sal terugkeer uit die land

van die vyand.

17 Daar is hoop vir jou nageslag,”

is die uitspraak van die Here –

“kinders sal terugkeer

na hulle grondgebied.

18“ Ek het dit beslis gehoor –

Efraim bejammer homself,

‘U het my ingebreek,

en ek het my laat inbreek

soos 'n ongeleerde kalf.

As U my laat terugkeer,

keer ek werklik terug;

want U is die Here my God.

19 Ja, nadat ek tot inkeer gekom het,

het ek berou gehad;

nadat ek tot die besef gekom het,

het ek myself op die heup geslaan.

Ek staan beskaamd,

ek voel ook verneder;

ja, ek dra die skande van my jeug.’

20 Is Efraim vir My 'n dierbare seun,

'n kind wat My vreugde verskaf?

Al vaar Ek telkens teen hom uit,

bly Ek hom weer onthou.

Daarom is my binneste

oor hom in beroering.

Ek sal My beslis oor hom ontferm,”

is die uitspraak van die Here.

21“Rig vir jou padwysers op;

bring vir jou rigtingwysers aan!

Rig jou aandag op die hoofroete,

die pad wat jy geloop het.

Keer terug, jongvrou van Israel!

Keer terug na hierdie dorpe van jou!

22Hoe lank gaan jy nog huiwer,

afvallige dogter?

Want die Here skep iets nuuts

op die aarde:

'n Vrou sal om 'n man beweeg. ”

23“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die Here jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!”

24Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek.

25 “ ‘Want Ek verkwik

'n dors mens,

en aan elkeen wat versmag,

gee Ek genoeg.’ ”

26 Hierop het ek wakker geword

en gekyk,

en my slaap was vir my soet.

27 “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek in die huis van Israel en in die huis van Juda die saad van mense en diere sal saai.

28 En soos Ek daarop bedag was om hulle uit te ruk en af te breek, plat te slaan, ten gronde te laat gaan en skade aan te rig, so sal Ek daarop bedag wees om hulle op te bou en te plant,” is die uitspraak van die Here.

29“ In daardie tyd sal hulle nie meer sê,

“ ‘Die ouers het groen druiwe geëet,

en die kinders se tande

het stomp geword’ nie.

30“Maar elkeen sal vir sy eie sondeskuld sterf. Elke mens wat groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31 “ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit.

32 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here.

33 “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.

34 Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.”

35So sê die Here,

wat die son bedags as 'n lig gee,

die vaste voorskrifte vir die maan

en sterre as ligte snags,

Hy wat die see in beweging bring,

sodat sy golwe dreun;

die Here, Heerser

oor alle magte is sy naam:

36 “As hierdie vaste voorskrifte

voor My verdwyn,”

is die uitspraak van die Here,

“sal ook die nageslag van Israel

ophou om vir altyd

'n nasie te wees voor My.”

37So sê die Here,

“As die hemelruim daar bo

gemeet kan word,

en die fondamente van die aarde

daar onder vasgestel kan word,

sal Ek ook die hele nageslag

van Israel verwerp

oor alles wat hulle gedoen het,”

is die uitspraak van die Here.

38“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer die stad vir die Here herbou sal word, van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort.

39Die maatlyn moet dan verder reguit aangelê word tot op die Garebheuwel; dan moet daar gedraai word na Goa.

40Die hele vallei waar die lyke en die as is, en al die terrasse tot by die spruit Kidron en die hoek van die Perdepoort aan die oostekant, sal vir die Here 'n heilige gebied wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help