Jesaja 45 - Die Bybel 2020-vertaling

Kores as God se dienskneg

1“ So sê die Here vir sy gesalfde,

vir Kores,

wie se regterhand Ek vasgegryp het

om nasies voor hom te verslaan,

deur konings te ontwapen

om voor hom deure oop te maak,

sodat poorte nie vir hom

gesluit sal bly nie,

2 ‘Ek self sal voor jou uit gaan,

die berge sal Ek gelyk maak.

Deure van brons

sal Ek stukkend breek,

en sluitbalke van yster

sal Ek stukkend kap.

3 Ek gee aan jou

skatte in die donker,

rykdomme in verborge plekke,

sodat jy kan weet

dat dit Ek, die Here, is

wat jou op jou naam roep,

die God van Israel,

4 ter wille van my dienskneg Jakob,

en Israel, my uitverkorene.

Ek roep jou op jou naam,

Ek gee jou 'n erenaam,

al het jy My nie geken nie.

5Ek is die Here,

en daar is geen ander nie;

buiten My is daar geen god nie.

Ek omgord jou,

al het jy My nie geken nie,

6 sodat hulle

van waar die son opkom,

en van waar hy ondergaan,

kan weet dat daar niks is

buiten My nie.

Ek is die Here,

en daar is geen ander nie –

7 die Een wat die lig vorm

en die duisternis skep,

wat voorspoed bewerk

en onheil skep.

Ek, die Here, bewerk

al hierdie dinge.

8“ ‘ Hemele daar bo,

laat dit neerstuif,

en laat die wolke

geregtigheid neersif!

Die aarde moet oopgaan;

dit moet verlossing

as vrug voortbring;

geregtigheid moet

daarmee saam uitspruit.

Ek, die Here, het dit geskep.

9“ ‘ Wee hom wat 'n stryd

aanknoop met die een

wat hom gevorm het –

hy is 'n potskerf tussen potskerwe

op die grond!

Vra die klei vir die een

wat dit vorm:

“Wat maak jy?

Jou maaksel – dit het nie eers

handvatsels nie!”

10Wee hom wat vir 'n vader sê:

“Waarom verwek jy kinders?”

of vir 'n vrou,

“Waarom krimp jy ineen

vir geboorte?” ’ ”

11So sê die Here,

die Heilige van Israel,

wat hom gevorm het:

“Die dinge wat kom –

vra My daaroor!

Oor my kinders en my handewerk

moet julle My mos opdragte gee!

12 Dit is Ek wat die wêreld

gemaak het,

en die mense daarop het Ek geskep.

Ek, ja, my hande het die hemelruim

oopgespan,

en aan al die hemelliggame

het Ek opdragte gegee.

13 Dit is Ek wat hom opgewek het,

met die oog op geregtigheid.

Al sy paaie sal Ek gelyk maak.

Dit is hy wat my stad sal herbou

en my ballinge sal vrylaat,

sonder 'n koopprys,

sonder omkoopgeld,”

sê die Here, Heerser oor alle magte.

14 So sê die Here:

“Die produkte van Egipte,

die handelswins van Kus,

en die Sabeërs, daardie lang mense,

sal na jou toe kom,

aan jou sal dit behoort.

Hulle sal agter jou aan loop,

in kettings sal hulle aankom.

Voor jou sal hulle diep neerbuig,

by jou sal hulle biddend pleit,

‘Waarlik, by jou is God,

en daar is geen ander nie,

ja, geen ander God nie.’ ”

15 Waarlik U is God,

die Een wat Uself verberg,

die God van Israel, die Verlosser.

16Hulle staan beskaamd,

ja, hulle is almal saam verneder.

Saam het die beeldemakers

in vernedering weggegaan.

17 Israel word verlos

deur die Here –

'n verlossing vir alle tye.

Hulle sal nie beskaamd staan nie,

en nie verneder word nie –

tot in alle ewigheid.

18 Ja, so sê die Here

wat die hemel geskep het

– Hy is God –

wat die aarde gevorm

en dit gemaak het

– Hy het dit gevestig –

nie as 'n onherbergsame plek

het Hy dit geskep nie,

maar om bewoon te word,

het Hy dit gevorm:

“Ek is die Here,

en daar is geen ander nie.

19 Ek het gepraat –

nie in die geheim nie,

nie iewers in 'n donker land nie.

Ek het nie vir die nageslag

van Jakob gesê,

‘Soek My in 'n onherbergsame

plek’ nie.

Ek, die Here, verkondig

geregtigheid;

Ek kondig aan wat reg is.

20 Kom byeen, ja, kom!

Kom almal nader, julle

van die nasies wat ontvlug het!

Hulle weet niks nie,

hulle wat hulle afgodsbeelde

van hout dra,

wat bid tot 'n god wat nie verlos nie.

21 Stel die saak en bring die bewyse!

Beraadslaag ook saam!

Wie het hierdie saak

lankal reeds bekend gestel,

dit tevore al aangekondig?

Is dit nie Ek, die Here, nie?

Daar is geen ander God buiten My nie

– 'n regverdige God,

en Een wat verlos –

geeneen behalwe Ek nie.

22“ Wend julle tot My,

en word verlos,

almal van die uithoeke

van die aarde!

Want Ek is God,

en daar is geen ander nie.

23 By Myself sweer Ek,

uit my mond gaan 'n belofte

oor geregtigheid,

en dit sal nie herroep word nie:

Voor My sal elke knie buig,

elke tong sal plegtig verklaar,

24‘Net by die Here,’

sê hulle dan van My,

‘is daar kragtige dade van geregtigheid.’ ”

Na Hom toe sal hulle kom

en beskaamd staan,

almal wat vir Hom kwaad is.

25Deur die Here

sal die hele nageslag van Israel

tot hulle reg kom,

en in Hom roem.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help