Openbaring 7 - Die Bybel 2020-vertaling

Die honderd vier-en-veertigduisend

1Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde in bedwang gehou, sodat daar nie wind op die land of op die see of teen enige boom sou waai nie.

2Ek het ook 'n ander engel van die oostekant af sien aankom, wat 'n seël van die lewende God vashou. Hy het met 'n kragtige stem geroep na die vier engele wat aangesê is om die land en die see te beskadig, en gesê:

3“Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met 'n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie. ”

4Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel:

5Uit die stam Juda, twaalfduisend

wat die seël dra;

uit die stam Ruben, twaalfduisend;

uit die stam Gad, twaalfduisend;

6uit die stam Aser, twaalfduisend;

uit die stam Naftali, twaalfduisend;

uit die stam Manasse, twaalfduisend;

7uit die stam Simeon, twaalfduisend;

uit die stam Levi, twaalfduisend;

uit die stam Issaskar, twaalfduisend;

8uit die stam Sebulon, twaalfduisend;

uit die stam Josef, twaalfduisend;

uit die stam Benjamin, twaalfduisend

wat die seël dra.

Die groot skare in die hemel

9Hierna het ek gesien, en kyk, daar was 'n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande.

10Hulle het met 'n harde stem uitgeroep:

“Die verlossing behoort aan ons God,

wat op die troon sit,

en aan die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon, en God aanbid

12en gesê:

“•Amen!

Die lof, die heerlikheid en die wysheid,

die dank en die eer,

die krag en die sterkte

kom ons God toe vir ewig en ewig.

Amen!”

13In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan?”

14Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê:

“Dit is die mense wat uit

die groot verdrukking kom.

Hulle het hulle lang stolas gewas,

en wit gemaak in die bloed van die Lam.

15Daarom is hulle voor die troon van God,

waar hulle Hom dag en nag in sy •tempel dien.

En Hy wat op die troon sit,

sal sy tent by hulle opslaan.

16 Hulle sal nie meer honger of dors word nie;

nie die son nie, ook geen hittegloed

sal hulle brand nie.

17Want die Lam wat in die middel

voor die troon staan,

sal hulle soos 'n herder versorg

en hulle na fonteine

met lewende water lei,

en God sal elke traan

uit hulle oë vee.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help