Hosea 8 - Die Bybel 2020-vertaling

1 “Bring die •ramshoring na jou mond!

Daar sirkel 'n arend

bo die huis van die Here,

omdat hulle my verbond oortree het,

en teen my wet in opstand is.

2 Na My roep hulle om hulp,

‘My God, ons, Israel, ken U!’

3 Israel het die goeie verwerp,

'n vyand sal hom agtervolg.

4 Daardie manne het konings aangestel,

maar sonder my goedkeuring.

Hulle het leiers aangewys,

maar Ek ken hulle nie.

Met hulle silwer en hulle goud

het hulle vir hulle afgode gemaak –

net sodat dit vernietig kan word.”

5 Hy het jou kalf verwerp, Samaria!

“My toorn het teen hulle ontbrand.

Hoe lank nog sal hulle

nie rein kan wees nie –

6as hulle dan deel is van Israel.

En daardie ding,

'n ambagsman het dit gemaak;

dit is nie 'n god nie.

Ja, die kalf van Samaria

sal houtspaanders word.

7“ As mense wind saai,

sal hulle 'n storm oes.

As daar geen are

aan 'n koringhalm is nie,

lewer dit geen koringkorrels nie.

As dit dalk iets lewer,

sal vreemdes dit insluk.

8 Israel is ingesluk;

nou het hulle onder die nasies

geword soos 'n stuk gereedskap

wat geen waarde meer het nie;

9 want hulle het opgetrek na Assirië.

Efraim is 'n eensame wildedonkie:

Hulle het ywerig vriende gewerf.

10 Selfs al werf hulle vriende

onder die nasies –

Ek gaan hulle nou bymekaar jaag,

en hulle sal begin wegkwyn

onder die las van die koning

van vorste.

11“ Toe Efraim meer altare

gebou het, was dit om te sondig;

dit het vir hom altare geword

om mee te sondig!

12Al skryf Ek vir hom my wet

tienduisend maal neer,

dit word as iets vreemds gereken.”

13Hulle slag offers vir die genot –

vleis, sodat hulle kan eet.

Die Here, Hy aanvaar hulle nie.

Nou gaan Hy hulle sondeskuld

in herinnering roep,

en Hy gaan rekenskap eis

oor hulle sondes.

Wat hulle betref,

na Egipte sal hulle terugkeer.

14“Toe Israel sy Maker vergeet het,

het hy paleise gebou;

en Juda het die versterkte stede

meer gemaak.

Maar Ek gaan vuur slinger

teen sy stede,

en dit sal sy vestings verteer. ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help