Psalms 85 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2 Here, U was u land goedgesind;

U het die lot van Jakob verander.

3U het die sondeskuld van u volk vergewe;

U het al hulle sonde bedek. •Sela

4U het al u gramskap teruggehou;

U het afgesien van u brandende toorn.

5Herstel ons nou weer,

o God wat ons verlos;

maak 'n einde aan u ergernis teen ons.

6Gaan U vir altyd

teen ons toornig wees?

Gaan u toorn voortduur

van geslag tot geslag?

7U, wil U ons nie maar weer

lewend maak,

sodat u volk hulle

in U kan verheug nie?

8 Here, laat ons weer

u troue liefde ervaar,

u verlossing – skenk dit aan ons!

9Ek wil hoor wat God, die Here, sê,

want Hy praat oor vrede vir sy volk

en sy getroue volgelinge.

Hulle moet net nie terugkeer

na dwaasheid nie.

10Sy verlossing is beslis naby dié

wat vir Hom ontsag het,

sodat sy heerlikheid in ons land

'n tuiste kan hê.

11Troue liefde en waarheid

ontmoet mekaar,

•geregtigheid en vrede

omhels mekaar.

12Waarheid sal uit die aarde spruit,

geregtigheid uit die hemel neerkyk.

13Daarby sal die Here gee wat goed is,

en ons land sal sy opbrengs lewer.

14Geregtigheid gaan voor Hom uit

en baan vir sy voetstappe die weg.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help