Jesaja 19 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Profesie oor Egipte.

Kyk, die Here ry op 'n vinnig

bewegende wolk en gaan

na Egipte.

Die nuttelose afgode van Egipte

beef voor Hom;

Egipte se hart krimp ineen.

2“ Ek gaan Egiptenare

teen mekaar aanhits,

sodat elkeen teen sy familielid

sal veg en elkeen teen

sy medemens –

stad teen stad,

koninkryk teen koninkryk.

3Egipte se gees sal binne-in hom

gebreek word;

sy planne sal Ek verwar.

Hulle sal nuttelose afgode raadpleeg,

ook die geeste van afgestorwenes,

waarsêergeeste en voorvadergeeste.

4Ek sal Egipte oorgee in die hand

van 'n harde meester;

'n hardvogtige koning

sal oor hulle heers. ”

Dit is die uitspraak van die Heer,

die Here, Heerser oor alle magte.

5 Die water sal opraak in die see,

die rivier sal opdroog

en droog lê.

6 Die strome begin stink,

die strome van Egipte loop leeg

en droog op;

die riete en palmiete word swart,

7ook die rietbosse aan die Nyl,

by die Nylmonding.

Al die saailande langs die Nyl

verdroog en raak verwaaid,

en niks bly oor nie.

8Die vissers weeklaag en treur,

almal wat hoeke in die Nyl gooi;

hulle wat nette oor die water

uitgooi, kwyn weg.

9 Dié wat met vlas werk,

die wolkammers, staan beskaamd;

die wewers word bleek.

10Die land se wewers is verpletter;

almal wat vir 'n loon werk,

is diep terneergedruk.

11 Blote sotte is die •hoë amptenare

van Soan;

die slimste raadgewers van

die farao se raad is stompsinnig.

Hoe kan julle vir die farao sê:

“Ek is van die groep van wyses,

'n nasaat van konings

uit die verre verlede.”

12 Waar is hulle dan, jou wyses?

Laat hulle jou tog inlig!

Hulle moet mos weet

wat die Here, Heerser oor alle magte,

oor Egipte besluit het.

13Die hoë amptenare van Soan

het sotte geword;

die hoë amptenare van Nof

koester vals hoop.

Die steunpilare van die land

se stamme het Egipte laat steier.

14 Die Here het midde-in die land

'n gees van verwarring bygevoeg.

Die verwarring laat Egipte steier

in alles wat hy doen,

soos 'n dronke steier in sy braaksel.

15Vir Egipte is daar niks

wat kop of stert,

palmtak of biesie

kan doen nie.

16Op daardie dag sal Egipte wees soos vroue. Hulle sal sidder en beef vir die opgeligte hand van die Here, Heerser oor alle magte, wat Hy oor Egipte laat gaan.

17Dan sal die land Juda vir Egipte 'n verskrikking wees. Elke keer wanneer iemand die land vir hom noem, sal hy bang wees oor die besluit van die Here, Heerser oor alle magte, die besluit wat Hy oor hom geneem het.

18 Op daardie dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän praat en wat aan die Here, Heerser oor alle magte, trou sweer. Een van die stede sal Stad van Verwoesting genoem word.

19Op daardie dag sal daar 'n altaar van die Here in die middel van Egipteland wees, en op sy grens 'n gedenksteen ter ere van die Here.

20Dit sal dien as 'n teken en 'n getuienis vir die Here, Heerser oor alle magte, in Egipteland; want hulle sal die Here om hulp roep vanweë hulle verdrukkers. Dan sal Hy vir hulle 'n verlosser stuur wat die saak sal behartig en hulle red.

21 Die Here sal Hom aan die Egiptenare bekend maak, en die Egiptenare sal Hom erken op daardie dag. Hulle sal Hom dien met slagoffers en •graanoffers, en aan die Here geloftes aflê en dit nakom.

22Die Here sal Egipte tref met 'n plaag, tref én genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer. Hy sal hulle smeekbedes verhoor en hulle genees.

23 Op daardie dag sal daar 'n grootpad wees vanaf Egipte na Assirië. Die Assiriërs sal na Egipte gaan, en die Egiptenare na Assirië. Die Egiptenare sal saam met die Assiriërs die Here dien.

24Op daardie dag sal Israel die derde wees saam met Egipte en Assirië – 'n seën midde-in die wêreld.

25Die Here, Heerser oor alle magte, sal hulle seën deur te sê: “Geseënd is my volk Egipte, ook Assirië, my handewerk, en my eiendom, Israel.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help