Hooglied 8 - Die Bybel 2020-vertaling

Sy:

1Was jy maar vir my

soos 'n broertjie wat aan my ma

se borste drink.

As ek jou buite teëkom en soen,

sou niemand my kwalik neem nie.

2 Ek sou jou lei,

jou na my ma se huis neem,

sy wat my geleer het.

Ek sou vir jou kruiewyn gee om te drink,

die sap van my granate.

3 Sy linkerarm is onder my kop,

sy regterarm omhels my.

4 Meisies van Jerusalem,

ek besweer julle:

Moenie die liefde aanwakker nie,

moet dit nie opwek nie,

voordat dit nie self wil ontwaak nie.

Koor:

5 Wie is dit wat daar

uit die woestyn kom

aan die arm van haar liefste?

Sy:

Onder die appelboom

laat ek jou ontwaak:

Daar het jou ma met jou

swanger geraak,

daar het sy wat swanger was

jou in die wêreld gebring.

6 Dra my

soos 'n rolseël teen jou hart,

soos 'n rolseël aan jou arm;

want liefde is kragtig soos die dood,

hartstog meedoënloos

soos die •doderyk –

die liefdesgloed is 'n vlammende vuur,

'n verterende vlam.

7 Baie water kan die liefde nie blus nie,

riviere kan dit nie wegspoel nie.

As iemand alles in sy huis aanbied

in ruil vir liefde,

sal hy diep verag word.

Haar broers:

8 Ons het 'n jong sustertjie,

nog sonder borste.

Wat sal ons vir ons sustertjie doen

die dag wanneer om haar hand

gevra word?

9 As sy 'n muur is,

sal ons 'n silwerverskansing

op haar bou;

en as sy 'n deur is,

sal ons haar met sederplanke afsper.

Sy:

10 Ek is 'n muur,

en my borste soos torings;

toe word ek vir hom soos 'n stad

wat vrede aanbied.

Hy:

11 Salomo het 'n wingerd besit

by Baäl-Hamon.

Hy het opsigters aangestel

wat duisend silwerstukke

vir die vruggebruik moes betaal.

12 My eie wingerd is voor my.

Die duisend silwerstukke

is vir jou, Salomo,

en tweehonderd vir hulle

wat die vrugte oppas.

13 O, jy wat in die tuine vertoef,

met vriende wat na jou stem luister –

laat mý dit hoor!

Sy:

14 Glip weg, my liefste!

Wees soos 'n ribbok

of 'n jong rooitakbok

op die heuwels vol speserye.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help