Sagaria 13 - Die Bybel 2020-vertaling

1“ Op daardie dag sal 'n fontein oopgemaak word waar die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem hulle sondes en •onreinheid kan afwas.

2“Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal Ek die name van die afgode in die land uitwis, sodat hulle nie meer onthou sal word nie; en Ek sal ook die profete en die gees van onreinheid uit die land verwyder.

3 En as iemand nog wil profeteer, sal sy vader en moeder wat hom in die wêreld gebring het vir hom sê, ‘Jy mag nie langer leef nie, want jy het leuens in die Naam van die Here verkondig.’ Sy vader en moeder wat hom in die wêreld gebring het, sal hom deurboor as hy wil profeteer.

4“ Op daardie dag sal elkeen van die profete skaam wees vir sy visioen toe hy geprofeteer het. Hulle sal nie 'n harige kleed aantrek met die doel om te bedrieg nie,

5 maar sal sê, ‘'n Profeet is ek nie, ek is iemand wat die grond bewerk, want iemand het my in my jeug al as slaaf gekoop.’

6 As iemand dan vra, ‘Wat is hierdie letsels op jou lyf? ’ sal hy antwoord, ‘Dit is hoe ek geslaan is in my vriende se huis.’ ”

Suiwering van dié wat oorbly

7 “Swaard, word wakker teen my herder, en teen die man uit my gemeenskap,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. “Vel die herder neer, sodat die kleinvee uitmekaar gejaag word. Ek sal selfs my hand teen die geringes draai.

8 In die hele land sal dit gebeur,” is die uitspraak van die Here, “twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en 'n derde sal oorbly.

9 En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos 'n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê, ‘Die Here is ons God.’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help