Jesaja 50 - Die Bybel 2020-vertaling

1So sê die Here:

“Waar is julle moeder se skeibrief

dan nou waarmee Ek haar

weggestuur het?

Of wie van my skuldeisers is daar

aan wie Ek julle verkoop het?

Kyk, oor julle sondeskuld

is julle verkoop,

en oor julle oortredings

is julle moeder weggestuur.

2Waarom het Ek gekom,

en daar was niemand nie,

het Ek geroep, en niemand

het geantwoord nie?

Was my hand werklik te kort

om te red?

Of was daar geen krag in My

om uit te red nie?

Kyk, deur my dreigende woord

laat Ek die see opdroog –

Ek maak van riviere 'n woestyn.

Die visse daarvan stink

weens 'n gebrek aan water –

hulle sterf van dors.

3 “Ek beklee die hemelruim

met donkerte;

Ek bedek dit met 'n roukleed. ”

Dienskneg van die Here

4 Dit is my Heer, die Here,

wat aan my 'n vaardige tong gegee het,

sodat ek kan weet

hoe om vermoeides

met 'n boodskap op te beur.

Elke oggend maak Hy my wakker;

Hy wek my oor om soos 'n leerling

te luister.

5My Heer, die Here,

het my ore oopgemaak,

en ek, ja, ek was nie opstandig nie;

teruggedeins het ek nie.

6 My rug het ek gehou

vir hulle wat slaan,

en my wange vir hulle wat baard uitpluk.

My gesig het Ek nie verberg

vir beledigings en spuug nie.

7 Dit is my Heer, die Here,

wat my te hulp kom;

daarom voel ek nie verneder nie;

daarom het ek my gesig

soos vuurklip gemaak.

Ek het geweet dat ek nie beskaamd

sou staan nie.

8 Hy wat my reg handhaaf, is naby.

Wie sal teen my 'n regstryd voer?

Laat ons saam plek inneem!

Wie is die teenstander in my saak?

Laat hy nader kom!

9 Kyk, my Heer, die Here,

kom my te hulp.

Wie is dit wat my skuldig

sal verklaar?

Kyk, hulle sal almal

soos 'n kleed verslyt,

motte sal hulle wegvreet.

10 Wie is daar onder julle

wat ontsag het vir die Here,

wat luister na die stem

van sy dienskneg?

Hy wat in duisternis verkeer,

wat geen lig het nie,

moet op die Naam

van die Here vertrou,

moet op sy God steun.

11Kyk, julle almal wat vure aansteek,

wat julle met brandpyle bewapen,

loop dan in die gloed van julle vuur,

ja, tussen die brandpyle

wat julle aangesteek het!

Deur my hand het dit met julle gebeur;

in 'n plek van pyniging sal julle lê.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help