Numeri 23 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Bileam sê toe vir Balak: “Bou vir my hier sewe altare en offer vir my hier sewe bulle en sewe ramme.”

2Balak het gedoen wat Bileam versoek het. Balak en Bileam het 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.

3 Bileam sê toe vir Balak: “Bly hier by u •brandoffer staan terwyl ek 'n entjie loop. Miskien gun die Here my 'n ontmoeting. Wat Hy my ook al laat sien, sal ek aan u bekend maak.” Daarna het hy na 'n kaal hoogte gestap.

4God het Bileam toe ontmoet. Bileam het vir Hom gesê: “Die sewe altare het ek gereedgemaak, en ek het 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.”

5 Die Here het toe 'n woord in die mond van Bileam gelê en gesê: “Gaan terug na Balak. Dit is wat jy moet sê.”

6 Hy het na Balak toe teruggegaan. Daar staan Balak toe nog steeds by sy brandoffers, hy en al die •hoë amptenare van Moab.

7 Bileam het sy orakelspreuk aangehef en gesê:

“Uit Aram laat hy my haal,

Balak, die koning van Moab,

uit die bergland in die ooste.

‘Kom vervloek vir my Jakob,

kom verwens Israel.’

8Hoe kan ek vervloek

vir wie God nie vervloek nie?

En hoe kan ek verwens

vir wie die Here nie verwens nie?

9 Ja, bo van die rotse af

sien ek hulle,

en vanaf die heuwels

neem ek hulle waar.

Kyk, dit is 'n volk

wat afgesonderd woon;

onder die nasies reken hy homself nie.

10 Wie kan die stof van Jakob tel,

die getal bereken van die stofwolk

van Israel?

Mag ek die dood

van die opregtes sterf,

mag my einde

soos hulle s'n wees!”

11 Balak het vir Bileam gesê: “Wat het jy my aangedoen? Om my vyande te vervloek, is waarvoor ek jou laat haal het; maar kyk, jy seën net.”

12 Bileam het daarop gereageer en gesê: “Moet ek nie dit wat die Here in my mond lê, noukeurig nasê nie?”

13 Toe sê Balak vir hom: “Kom asseblief saam met my na 'n ander plek, waarvandaan jy slegs 'n deel van hulle sal sien. Die hele volk sal jy nie kan sien nie. Vervloek hulle dan vir my daarvandaan.”

14Hy neem hom toe na die oop stuk grond van Sofim, op die kruin van Pisga. Hy het sewe altare gebou en 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.

15Bileam sê toe vir Balak: “Bly hier staan by jou brandoffer, maar ek sal daar gereedstaan vir 'n ontmoeting.”

16Die Here het Bileam ontmoet, 'n woord in sy mond gelê en vir hom gesê: “Gaan terug na Balak. Dit is wat jy moet sê.”

17Toe hy by Balak kom, staan hy nog daar by sy brandoffer, met die hoë amptenare van Moab by hom. Balak vra hom: “Wat het die Here gesê?”

18Bileam het sy orakelspreuk aangehef en gesê:

“Staan op Balak, en luister!

Gee aandag aan wat ek sê,

seun van Sippor.

19 God is nie 'n man,

dat Hy sou lieg nie,

en nie 'n mensekind,

dat Hy van plan sou verander nie.

Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,

sou Hy praat en dit nie gestand doen nie?

20 Kyk, om te seën is die opdrag

wat ek ontvang het.

Hy het geseën, en ek kan dit

nie omkeer nie.

21 Onheil is nie in sig vir Jakob nie,

en teenspoed is nie in die vooruitsig

vir Israel nie.

Die Here sy God is by hom,

die gejubel oor 'n Koning klink in hom op.

22 God, wat hulle uit Egipte

laat wegtrek het,

is soos die horings van 'n buffel vir hom.

23 Want daar is nie voorspelling in Jakob,

en waarsêery in Israel nie.

Nou moet daar gesê word vir Jakob,

vir Israel, wat God gedoen het,

24 ‘Kyk, 'n volk staan op

soos 'n leeuwyfie,

soos 'n leeu kom hy orent.

Hy gaan lê nie totdat hy sy prooi

verslind het nie,

die bloed van wat doodgemaak is,

nie gedrink het nie.’ ”

25 Balak sê toe vir Bileam: “Moet dan nie 'n vervloeking nie, maar ook nie 'n seën oor hulle uitspreek nie.”

26Bileam het daarop gereageer en vir Balak gesê: “Het ek nie vir u gesê nie, ‘Alles wat die Here sê, dit sal ek doen’?”

27 Toe sê Balak vir Bileam: “Kom asseblief; ek vat jou na 'n ander plek toe. Miskien sal dit reg wees in God se oë dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.”

28Balak vat toe vir Bileam na die kruin van Peor, wat 'n uitsig bied oor die wildernis.

29Bileam het vir Balak gesê: “Bou vir my hier sewe altare en offer vir my hier sewe bulle en sewe ramme.”

30Balak het gedoen wat Bileam gesê het. Hy het 'n bul en 'n ram geoffer op elke altaar.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help