Job 13 - Die Bybel 2020-vertaling

1“Kyk, my oog het dit alles gesien;

my oor het dit gehoor en begryp.

2Wat julle weet, weet ek ook;

ek staan nie vir julle terug nie.

3 Maar ek, met die Almagtige

wil ek praat;

die saak wil ek graag

met God beredeneer.

4 Julle is egter mense

wat met leuens pleister,

kwaksalwers, julle almal!

5 As julle maar doodstil wou bly!

Dit sou vir julle as wysheid geld.

6Luister asseblief na my pleidooi;

op die aanklag van my lippe

moet julle ag slaan.

7 Wil julle namens God

onregverdige argumente aanvoer,

namens Hom bedrieglike

argumente aanvoer?

8Wil julle partydig wees vir Hom,

of namens God 'n regstryd voer?

9 Sal dit goed afloop as Hy julle

onder kruisverhoor neem?

Of sal julle Hom mislei

soos mens 'n sterfling mislei?

10Hy sal julle beslis teregwys

as julle in die geheim partydig is.

11 Sal sy majesteit

julle nie ontstel nie,

die vrees wat Hy inboesem,

julle nie oorval nie?

12 Julle stellings is spreuke in die stof;

julle antwoorde word antwoorde van klei!

13“ Swyg voor my,

laat ek 'n keer praat!

Laat dan maar oor my kom wat wil.

14Om watter rede neem ek

my eie vlees tussen my tande,

en plaas ek my eie lewe

in die palm van my hand?

15 Kyk, Hy kan my doodmaak,

maar ek gaan nie wag nie.

Ek wil net my optrede

in sy teenwoordigheid verdedig.

16Selfs dit sal vir my bevryding bied,

want die godloses kom nie

in sy teenwoordigheid nie.

17Luister aandagtig na my woorde,

laat my uiteensetting

in julle ore klink.

18Kyk tog, ek het die saak

uiteengesit;

ek weet dat ek die reg

aan my kant het.

19 Wie is die een

wat geldige argumente

teen my kan aanvoer?

Want dan sou ek swyg en omkom.

20“Net twee dinge moet U

my nie aandoen nie,

dan sal ek vir u teenwoordigheid

nie wegkruip nie:

21 U hand, hou dit ver van my,

en u verskrikking,

laat dit my nie ontstel nie.

22Roep maar!

Ek sal myself verdedig.

Of, ek sal praat,

en antwoord U my.

23 Hoeveel sondeskuld en sondes het ek?

My oortreding en my sonde,

maak dit aan my bekend!

24 Waarom verberg U u gesig

en beskou U my as 'n vyand van U?

25 Sal U 'n windverwaaide blaar verskrik,

en 'n droë strooihalm agternasit?

26 Ja, bitter dinge

teken U teen my aan;

die sondeskuld van my jeug

maak U my erfdeel.

27 U sit my voete in die blok;

U hou al my bewegings dop;

U plaas u merk op my voetsole.

28 En so iemand, hy vergaan

soos iets wat verrot,

soos 'n kledingstuk

wat die motte vreet.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help