Jesaja 14 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Maar die Here sal Hom

oor Jakob ontferm;

Hy sal Israel weer kies,

en hulle op hulle grond tot rus bring.

Vreemdelinge sal by hulle aansluit,

hulle by die huis van Jakob voeg.

2Volke sal Israel neem

en hulle terugbring na hulle plek.

Dan sal die huis van Israel

hulle as eiendom neem,

as slawe en slavinne

op die grondgebied van die Here.

Israel sal dié wegvoer wat hulle

as gevangenes weggevoer het,

en heers oor dié wat hulle

verdruk het.

3 En dan, die dag wanneer

die Here jou rus gee

van jou swaarkry en jou onrus,

en van die harde arbeid

wat jou opgelê is,

4 sal jy hierdie spotlied sing

oor die koning van Babilonië.

Jy sal sê:

“Hoe het die verdrukker

tot 'n einde gekom,

die verdrukking opgehou!

5 Die Here het die stok

van goddeloses gebreek,

die staf van die heersers,

6 wat volke in gramskap

geslaan het met slae

sonder ophou,

wat nasies in toorn vertrap het

met vervolging

sonder om terug te hou.

7 Die hele aarde beleef

rus en kalmte,

mense breek uit in jubelkrete.

8Selfs die sipresse

is verheug oor jou;

die seders van die Libanon sê,

‘Vandat jy daar lê,

klim geen houtkapper

op na ons toe nie.’

9 Die •doderyk daaronder

is in beroering oor jou,

om jou te ontmoet by jou aankoms.

Dit maak die skimme wakker

oor jou;

al die voorbokke van die aarde,

al die konings van die nasies

staan op van hulle trone.

10Hulle almal reageer en sê vir jou,

‘Ook jy is so swak gemaak soos ons,

net soos ons het jy geword.

11Jou hoogmoed is afgebring

na die doderyk,

ook die geluid van jou harpe.

Onder jou vorm maaiers 'n bed,

wurms bedek jou.’ ”

12 Hoe het jy geval

uit die hemelruim,

môrester, seun van die daeraad!

Hoe is jy tot op die grond neergekap,

jy wat nasies verslaan het!

13 Jy is die een wat in jou hart gesê het:

Na die hemel wil ek opgaan;

hoog bo die sterre van God

wil ek my troon oprig.

Ek wil gaan sit op die berg

van samekoms,

in die afgeleë noorde.

14Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke,

my gelykstel aan die Allerhoogste.

15 Jy is egter na die doderyk afgebring,

tot in die afgeleë put.

16 Hulle kyk na jou,

hulle staar na jou,

hulle beskou jou aandagtig:

“Is dit die man wat die aarde

laat beef het,

koninkryke laat sidder het?

17Hy het die bewoonde wêreld

soos 'n woestyn gemaak,

die stede daarvan afgebreek.

Sy gevangenes het hy nie vrygelaat

om huis toe te gaan nie.”

18 Al die konings van die nasies,

hulle almal, rus eervol,

elkeen in sy eie tuiste.

19Maar jy, jy is weggesmyt,

weg van jou graf,

soos 'n verfoeilike takkie,

oordek met gesneuweldes,

met hulle wat deurboor is

deur die swaard,

dié wat afdaal na die klippe

van die put –

as 'n vertrapte lyk.

20Jy sal nie met hulle

verenig word in 'n graf nie;

want jou land het jy verwoes,

jou mense het jy doodgemaak.

Die geslag kwaaddoeners

sal nooit weer vermeld word nie.

21 Maak vir sy kinders

'n slagplek gereed

weens die sondeskuld

van hulle voorouers.

Hulle mag nie opstaan

en die land in besit neem,

sodat die oppervlakte

van die aarde weer

vol stede is nie.

22 “Ek sal teen hulle opstaan,”

is die uitspraak

van die Here, Heerser oor alle magte.

“Ek sal van Babel uitroei

naam en oorblyfsel,

kind en nageslag,”

is die uitspraak van die Here.

23“Ek maak van Babel

waterryke vleilande,

die domein van uile.

Ek sal haar wegvee

met 'n besem wat verdelg.”

Dit is die uitspraak

van die Here, Heerser oor alle magte.

24 Die Here, Heerser oor alle magte,

het 'n eed afgelê met dié woorde:

“Soos Ek iets bedink,

so sal dit gebeur;

soos Ek beplan,

kom dit tot stand:

25 Dit is om Assirië te breek

in my land;

op my berge sal Ek hom vertrap.

Sy juk sal van my volk wyk,

sy las sal van hulle skouers wyk.”

26Dit is die besluit wat oor

die hele aarde geneem is;

en dit is die hand wat uitgestrek is

oor al die nasies.

27Ja, die Here, Heerser oor alle magte,

het besluit –

wie kan dit verydel?

Sy hand is uitgestrek –

wie kan dit afweer?

28In die sterfjaar van koning Agas is hierdie profesie ontvang:

29 “Jy, ganse Filistea,

moet jou nie verheug

dat die stok wat jou geslaan het,

gebreek is nie!

Want uit die wortel van 'n slang

sal 'n kobra voortkom;

en dié lewer weer

'n vlieënde vurige slang.

30In my weiding sal armes wei,

en die behoeftiges sal veilig gaan lê;

maar deur honger sal Ek jou wortel

laat sterf,

en wat van jou oorbly,

sal die hongersnood ombring.

31“Huil, poort!

Roep om hulp, stad!

Sidder, ganse Filistea!

Want uit die noorde

kom 'n rookwolk,

en daar is in sy geledere

niemand wat uitsak nie.

32 Watter antwoord

moet die gesante van die nasie

dan kry?

‘Die Here het Sion gegrondves,

en in haar sal die magteloses

van sy volk skuiling vind.’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help