Job 15 - Die Bybel 2020-vertaling

Elifas se tweede betoog

1 Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:

2 “Sal 'n wyse antwoord

met sinlose kennis,

en sy binneste

met die oostewind vul?

3Kan hy sy saak verdedig

met 'n argument wat nie sin maak nie,

met woorde waarmee hy niks uitrig nie?

4Jy is boonop die een

wat ontsag vir God ondermyn;

jy skat oorpeinsing voor God gering.

5Ja, jou sondeskuld

vuur jou mond aan;

jy kies die taal van geslepenes.

6Jou eie mond verklaar jou skuldig –

nie ek nie;

jou lippe getuig teen jou.

7“Is jy die eerste mens wat gebore is?

Is jy voor die heuwels voortgebring?

8 Luister jy na die vertroulike beraadslaging van God,

en beperk jy wysheid net tot jouself?

9 Wat weet jy wat ons nie weet nie?

Watter insig het jy waarin ons nie deel nie?

10 Daar is sowel gryskoppe as ou manne onder ons,

ryper in jare as jou vader.

11“Is dit te gering vir jou –

God se vertroostinge,

'n sagte woord aan jou?

12Waarom voer jou hart jou mee,

waarom laat jou oë jou in die steek,

13dat jy jou gegriefdheid teen God rig,

dat daar woorde uit jou mond kom?

14 Wat is 'n sterfling,

dat hy volkome reg sou wees,

dat hy gelyk sou hê –

iemand gebore uit 'n vrou?

15Kyk, God stel selfs

in sy heiliges nie vertroue nie –

ook die hemel is nie rein in sy oë nie –

16 hoeveel minder 'n mens

wat afstootlik en ontaard is,

wat ongeregtigheid soos water drink!

17“Ek sal jou onderrig,

luister na my!

Dit is wat ek gesien het,

en ek wil vertel

18 wat die wyses bekend gemaak

en nie weggesteek het nie,

op gesag van hulle voorvaders,

19 hulle, die enigstes aan wie

die land gegee is,

toe geen buitestanders nog

tussen hulle deurgetrek het nie:

20 Al die dae van sy lewe

krimp 'n goddelose ineen van angs,

ja, tydens die volle getal jare

wat weggesit is vir 'n geweldenaar.

21 Die geluid van verskrikkinge is in sy ore;

in 'n tyd van voorspoed oorval 'n verwoester hom.

22Hy glo nie dat hy uit die donker

sal terugkeer nie;

hy word voortdurend dopgehou,

met die oog op teregstelling.

23 Hy dwaal rond as kos vir die aasvoëls;

hy weet dat deur sy eie toedoen

die dag van duisternis gereed is.

24Benoudheid en neerslagtigheid verskrik hom –

dit oorweldig hom soos wanneer

'n koning gereedmaak vir die aanslag;

25omdat hy sy hand teen God uitgesteek het,

hom teenoor die Almagtige

magtig gehou het,

26hardnekkig op Hom afgestorm het

met sy dik, knobbelrige skild.

27 Al blink sy gesig van die vet

en het hy 'n vetrol om sy middel,

28en al het hy verwoeste stede bewoon

– huise wat onbewoonbaar moes bly,

wat bestem was om kliphope te wees –

29hy sal nie ryk bly nie,

sy welvaart sal nie standhou nie;

sy besittings sal nie deur die land uitbrei nie.

30Hy sal die donker nie ontwyk nie.

'n Vlam sal sy loot laat verskrompel,

sodat hy verdwyn deur die asem van God se mond.

31Hy moet nie op nietigheid vertrou nie –

hy word mislei;

want nietigheid sal hy as ruilware kry.

32 Voor sy tyd word dit vervul;

sy takke sal nie vol blare wees nie.

33 Hy skud sy groen druiwe soos 'n wingerdstok af,

en gooi sy bloeisels soos 'n olyfboom af.

34Ja, die bende godloses is onvrugbaar,

en vuur verteer die tente

wat deur omkopery verkry is.

35 Hulle is swanger van teenspoed,

en gee geboorte aan onreg,

hulle skoot berei bedrog voor.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help