Jeremia 23 - Die Bybel 2020-vertaling

1 “Wee die herders wat die kleinvee van my weiveld ten gronde laat gaan en hulle uitmekaarjaag,” is die uitspraak van die Here.

2“Daarom, so sê Ek, die Here, die God van Israel, oor die herders wat my volk moet laat wei, ‘Dit is julle wat my kleinvee uitmekaar gejaag en verdryf het. Julle het nie vir hulle verantwoordelikheid aanvaar nie. Kyk, Ek gaan julle tot verantwoording roep oor julle bose dade,’ ” is die uitspraak van die Here.

3 “ ‘Maar Ek self sal dié wat oor is van my kleinvee bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het, en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld. Dan sal hulle vrugbaar wees en vermeerder.

4 En Ek sal herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle laat wei. Hulle sal nie meer bang of verskrik wees of vermis word nie,’ ” is die uitspraak van die Here.

5 “Kyk, daar kom dae,”

is die uitspraak van die Here,

“wanneer Ek vir Dawid

'n regverdige loot sal laat opkom.

Hy sal as koning regeer

en verstandig optree;

hy sal in die land

reg en geregtigheid handhaaf.

6 In sy dae sal Juda verlos word,

en Israel sal veilig woon.

En dit sal sy naam wees

wat hy genoem word,

‘Die Here is ons geregtigheid.’ ”

7 “Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer hulle nie meer sal sê, ‘So waar as die Here leef, wat die Israeliete uit Egipteland laat optrek het nie,’

8maar, ‘So waar as die Here leef, wat die nageslag van die huis van Israel laat optrek en gebring het uit 'n land in die noorde, en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het.’ En hulle sal weer op hulle grond woon.”

Profesieë oor profete

9 Oor die profete.

My hart is gebreek in my binneste;

my hele gebeente bewe.

Ek het geword soos iemand

wat dronk is,

soos 'n man

wat deur wyn oorweldig is –

en dit vanweë die Here,

vanweë sy heilige woorde.

10 Want van egbrekers is die land vol,

ja, vanweë vervloeking verdor die land;

die weivelde van die woestyn verdroog.

Wat hulle najaag, is boosheid,

en hulle krag lê in wat nie reg is nie.

11 “Ja, profeet sowel as priester

is besoedel;

selfs in my huis het Ek

hulle boosheid gevind,”

is die uitspraak van die Here.

12“Daarom sal hulle pad vir hulle word

soos glibberige plekke in die donker;

hulle sal gestamp word en daarop val.

Want Ek bring onheil oor hulle

in die jaar waarin daar

van hulle rekenskap geëis word,”

is die uitspraak van die Here.

13“ By die profete van Samaria

het Ek iets onbehoorliks gesien:

Hulle het in die naam van Baäl geprofeteer

en my volk Israel laat afdwaal.

14 Maar by die profete van Jerusalem

het Ek iets afskuweliks gesien:

Hulle pleeg egbreuk en leef 'n leuen;

hulle sterk die hande van boosdoeners,

sodat niemand wegdraai

van sy boosheid nie.

Hulle almal het vir My geword

soos Sodom,

en die inwoners soos Gomorra.”

15 Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, oor die profete:

“Kyk, Ek laat hulle wildeals eet,

en laat hulle giftige water drink;

want van die profete van Jerusalem af

het goddeloosheid uitgegaan

na die hele land.”

16So sê die Here, Heerser oor alle magte:

“Moenie luister na die woorde

van die profete,

wat hulle vir julle profeteer nie;

hulle gee julle vals hoop.

Visioene uit hulle eie hart

verkondig hulle –

uit die mond van die Here kom dit nie.

17 Hulle hou aan sê

vir dié wat My verag,

‘Die Here het gesê:

Vrede sal daar vir julle wees!’

En vir elkeen wat die verstoktheid

van sy hart volg,

vir dié sê hulle,

‘Onheil sal julle nie tref nie!’

18 Maar wie het gestaan

in die vertroulike vergadering

van die Here?

Wie het sy woord beleef en gehoor?

Wie het aandagtig geluister

na sy woord en dit gehoor?

19Daar kom die Here se stormwind!

Woede het losgebreek –

'n werwelstorm!

Dit kolk bo die koppe van goddeloses.

20 Die toorn van die Here sal nie bedaar nie,

totdat Hy die planne van sy hart uitgevoer,

dit tot stand gebring het.

Aan die einde van die dae

sal julle dit ten volle verstaan.

21 Ek het nie die profete gestuur nie,

maar hulle hardloop.

Ek het nie met hulle gepraat nie,

maar hulle profeteer.

22 As hulle in my vertroulike

vergadering gestaan het,

sou hulle my volk my woorde laat hoor

en hulle laat omdraai het

van hulle bose pad

en van hulle bose dade.

23 “Is Ek net 'n God wat naby is,”

is die uitspraak van die Here,

“en nie ook 'n God wat ver is nie?

24Of kan iemand in geheime plekke wegkruip,

en Ek hom nie sien nie? ”

is die uitspraak van die Here.

“Vul Ek nie die hemel en die aarde nie?”

is die uitspraak van die Here.

25“Ek het gehoor wat die profete sê, hulle wat in my Naam leuens profeteer deur te sê, ‘Ek het gedroom, ek het gedroom!’

26Hoe lank sal dit voortbestaan in die harte van die profete wat leuens profeteer, wat die misleiding van hulle eie harte profeteer,

27 hulle wat daarop uit is om my volk my Naam te laat vergeet met hulle drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorouers my Naam vergeet het deur Baäl?

28Die profeet wat 'n droom het, moet die droom vertel; maar wie my woord het, moet my woord betroubaar verkondig. Hoe vergelyk strooi met gedorste graan?” is die uitspraak van die Here.

29“Is my woord nie so nie – soos 'n vuur,” is die uitspraak van die Here, “soos 'n hamer wat rots stukkend kap?

30Daarom, dit is Ek teen die profete,” is die uitspraak van die Here, “hulle wat my woorde by mekaar steel!

31Dit is Ek teen die profete,” is die uitspraak van die Here, “hulle wat hulle tonge gebruik en verklaar, ‘Dit is 'n uitspraak!’

32 Dit is Ek teen hulle wat vals drome as profesieë voorhou,” is die uitspraak van die Here, “dit oorvertel, en my volk laat afdwaal met hulle leuens en roekeloosheid. Dit is nie Ek wat hulle gestuur en hulle die opdrag gegee het nie. Hulle hou hoegenaamd geen voordeel in vir hierdie volk nie,” is die uitspraak van die Here.

33“As hierdie volk of 'n profeet of priester vir jou vra, ‘Wat is die godspraak van die Here?’ moet jy vir hulle sê, ‘Watter godspraak? Ek gee julle prys – dit is die uitspraak van die Here.’

34En die profeet of priester of die volk wat sê, ‘godspraak van die Here!’ – Ek sal van daardie man en sy huis rekenskap eis.

35So moet julle elkeen vir sy vriend en vir sy volksgenoot sê, ‘Wat het die Here geantwoord?’ of ‘Wat het die Here gesê?’

36Maar van ‘godspraak van die Here’ mag julle nie weer melding maak nie. Want vir elkeen word sy eie woord die godspraak. Julle verdraai die woorde van die lewende God, die Here, Heerser oor alle magte, ons God.

37So moet jy vir die profeet vra, ‘Wat het die Here jou geantwoord?’ of ‘Wat het die Here gesê?’

38En as dit ‘godspraak van die Here’ is wat julle bly vra – daarom, so sê die Here, omdat julle hierdie uitdrukking ‘godspraak van die Here’ gebruik, al het Ek 'n boodskapper na julle gestuur met die woorde, ‘Julle mag nie sê “godspraak van die Here” nie,’

39 daarom – kyk, Ek, Ek gaan julle beslis vergeet. Ek gaan julle en die stad wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, prysgee – weg uit my teenwoordigheid.

40Ek sal ewige skande oor julle bring, ewige vernedering wat nie vergeet sal word nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help