Jesaja 6 - Die Bybel 2020-vertaling

Jesaja se taak as profeet

1 In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op 'n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul.

2 Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg.

3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.”

4 Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.

5 Ek het gesê:

“Wee my, want ek is verlore!

Want ek is 'n mens

met onrein lippe,

en by 'n volk met onrein lippe

woon ek.

Ja, my oë het die Koning,

die Here, Heerser oor alle magte,

gesien.”

6Een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool by hom wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het.

7 Hy het my mond aangeraak en gesê:

“Kyk, dit het jou lippe aangeraak,

jou sondeskuld het gewyk,

daar is vir jou sonde

versoening gedoen.”

8 Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê:

“Wie sal Ek stuur

en wie sal vir ons gaan?”

Ek sê toe:

“Hier is ek, stuur my!”

9 Hy het gesê:

“Gaan sê vir hierdie volk,

‘Luister goed,

maar moenie verstaan nie;

kyk goed,

maar moenie begryp nie.’

10 Maak die harte van hierdie volk

ongevoelig,

maak hulle ore doof

en smeer hulle oë toe,

sodat hulle nie sien met hulle oë,

met hulle ore nie hoor,

en met hulle hart nie verstaan,

en nie terugdraai

en genees word nie!”

11 Daarop vra ek:

“Tot wanneer, my Heer?”

Hy het geantwoord:

“Totdat die dorpe vervalle lê

sonder inwoners,

die huise sonder mense is,

die land verval tot 'n woesteny,

12en die Here die mense

ver wegdryf,

en die verlatenheid in die land

groot is.

13 As daar nog 'n tiende

in die land is,

sal die land weer aan

verwoesting uitgelewer wees.

Tog sal by hulle 'n stomp oorbly,

soos van 'n •terebintboom en 'n eikeboom

wanneer hulle neergevel is.

Die stomp van die land

is 'n heilige geslag. ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help