Spreuke 27 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Moenie spog oor die dag

van môre nie,

want jy weet nie wat die dag

sal oplewer nie.

2 Laat 'n vreemde jou prys,

en nie jou eie mond nie,

'n buitestander, en nie jou eie lippe nie.

3 'n Klip is swaar en sand het gewig,

maar teistering deur 'n sot

is swaarder as albei.

4 Woede is wreed

en toorn oorweldigend,

maar wie kan staande

bly voor jaloesie?

5 'n Openlike teregwysing is beter

as liefde in die geheim.

6 Die wonde deur 'n geliefde

toegedien, word opreg bedoel,

maar oordrewe is die soene

van iemand wat haat.

7 'n Persoon wat versadig is,

vertrap 'n heuningkoek,

maar vir 'n honger persoon

is alles wat bitter is, soet.

8 Soos 'n voël wat rondswerf

weg van sy nes af,

so is iemand wat rondswerf

ver van sy woonplek af.

9 Olie en reukwerk maak die hart bly,

maar die •siel word uitmekaar

geskeur deur teenspoed.

10 Jou vriend en die vriend

van jou vader

moet jy nie verlaat nie,

en in die huis van jou broer

moet jy nie kom op die dag

van jou teenspoed nie;

'n buurman wat naby is,

is beter as 'n broer wat ver is.

11 Wees wys, my seun,

en maak my hart bly,

sodat ek die een wat my beledig,

'n antwoord kan gee.

12 'n Slim mens sien gevaar

en soek skuiling,

maar onverstandiges gaan voort

en moet die prys betaal:

13 “Neem sy kleed,

want hy het borg gestaan

vir 'n vreemde,

vir 'n vreemde vrou –

neem 'n pand van hom!”

14Wie sy vriend luidrugtig

seën toewens

in die vroeë oggend –

dit sal hom as 'n vervloeking

toegereken word.

15 'n Lekkende dak wat aanhou

drup op 'n dag van stortreën,

en 'n vrou wat rusie maak,

is presies dieselfde.

16Wie aan haar skuiling bied,

bied aan die wind skuiling,

en sy regterhand vat in olie.

17 Yster slyp yster,

en een mens slyp

die aard van 'n ander.

18 Wie 'n vyeboom versorg,

sal sy vrugte eet,

en wie na sy meerdere omsien,

sal geëer word.

19 Soos water 'n gesig weerspieël,

so weerspieël die hart

van 'n mens hom.

20 Die •doderyk en die onderwêreld

word nie versadig nie,

en die oë van 'n mens

word ook nie versadig nie.

21 'n Smeltkroes is vir silwer,

en 'n smeltoondjie vir goud,

en 'n man word beoordeel

volgens die lof wat hy ontvang.

22 Selfs as jy 'n sot tussen

garskorrels in 'n stampblok

stamp met 'n stamper,

sal sy sotheid nie van hom wyk nie.

23 Let goed op die voorkoms

van jou kleinvee;

gee aandag aan jou veetroppe,

24want rykdom hou nie vir altyd nie.

Of sal 'n kroon altyd daar wees

van geslag tot geslag?

25Wanneer die hooi verwyder is,

die jong gras verskyn,

en die voer uit die heuwels

versamel is,

26is die jong ramme daar

vir jou bokleed,

en die bokramme vir die prys

van 'n saailand.

27Daar sal genoeg bokmelk wees

as kos vir jou, as kos vir jou huis,

en as lewensonderhoud

vir jou diensmeisies.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help