2 Korinthiërs 6 - Die Bybel 2020-vertaling

1As medewerkers van God doen ons 'n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie!

2Want Hy sê:

“Op die regte tyd

het Ek na jou geluister,

en op die dag van verlossing

het Ek jou gehelp.”

Kyk, nou is die gunstige tyd,

kyk, nou is die dag van verlossing!

3Ons gee in geen opsig enige aanstoot aan iemand nie, sodat daar nie met die bediening foutgevind kan word nie.

4Maar in alles beveel ons onsself aan as dienaars van God, met groot uithouvermoë:

in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede;

5 geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger;

6 met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde;

7met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van •geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand;

8te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is;

9as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie;

10as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.

11Ons het reguit met julle gepraat, Korinthiërs; ons harte is wyd oop vir julle.

12Julle word nie deur ons ingeperk nie, maar julle word deur julleself in julle eie binneste ingeperk.

13Maar doen dít as teenprestasie – ek praat soos met kinders: Stel julleself ook wyd oop vir ons.

Tempel van die lewende God

14Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie,

want watter vennootskap kan daar wees

tussen reg en onreg?

Of watter verbondenheid kan daar wees

tussen lig en duisternis?

15En watter ooreenstemming is daar

tussen •Christus en Belial,

of wat het 'n gelowige gemeen

met 'n ongelowige?

16En watter ooreenkoms

het die tempel van God

met afgode?

Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het:

“Ek sal onder hulle woon

en saam met hulle wandel;

Ek sal hulle God wees,

en hulle sal my volk wees.”

17Daarom:

“Gaan uit hulle midde uit

en sonder julle af,” sê die Here,

“en moenie aanraak wat •onrein is nie.”

“En Ek sal julle aanneem,”

18en

“Ek sal vir julle 'n vader wees,

en julle sal my seuns en dogters wees,”

sê die Here, die Almagtige.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help