Psalms 77 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. Van Asaf. 'n Psalm.

2 Ek roep hard na God,

ek roep om hulp.

Ek roep hard na God,

sodat Hy my moet hoor.

3In die tyd van my nood

soek ek my Heer.

In die nag hou ek onvermoeid

my hande uitgestrek;

ek is ontroosbaar.

4Dink ek aan God, dan kreun ek;

kla ek, dan weifel my gees. •Sela

5U hou my ooglede oop;

ek is ontsteld en kan nie praat nie.

6Ek dink terug aan vervloë dae,

aan vergange jare.

7Ek wil snags aan my harpspel dink;

met my hart wil ek kla

en my gees deursoek.

8Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot

en ons nooit weer aanvaar nie?

9Is dit vir altyd die einde

van sy troue liefde?

Het sy boodskappe van geslag

tot geslag tot 'n einde gekom?

10Het God vergeet om genadig te wees,

of het Hy in toorn

sy ontferming opgehef? Sela

11Toe het ek gesê:

“Dit is wat my kwel –

die verandering van die

Allerhoogste se regterhand.”

12Ek sal die Here se dade onthou,

ja, ek wil u wonders van vroeër onthou.

13Ek sal oor al u werke

mymerend prewel,

oor u handelinge wil ek nadink:

14O God, u weg is •heilig.

Wie is so 'n groot god soos God?

15U is die God wat wonders doen,

U het u krag onder die volke

bekend gemaak.

16U het u volk met die krag

van u arm losgekoop –

die kinders van Jakob en Josef. Sela

17Die waters het U gesien, o God,

die waters het U gesien,

dit het ineengekrimp;

ja, die •oerwaters het gesidder.

18Wolke het water uitgegiet,

donderwolke het gedreun,

ja, u pyle het heen en weer geflits.

19Die geluid van u donderweer

was in die stormwind,

weerligstrale het die wêreld verlig,

die aarde het gesidder en gebeef.

20Deur die see loop u pad,

u weg deur massas water,

maar u spore was onherkenbaar.

21U het, deur die hand

van Moses en Aäron,

u volk soos kleinvee gelei.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help