Hooglied 2 - Die Bybel 2020-vertaling

1Ek is 'n tulp van die Saron,

'n narsing uit die valleie.

Hy:

2Soos 'n narsing tussen dorings,

so is my liefling onder die meisies.

Sy:

3Soos 'n appelboom

tussen die bome van die bos,

so is my liefste

onder die jong mans.

Ek sit graag in sy skaduwee,

sy vrugte soet op my tong.

4Hy neem my na 'n wynhuis

onder die vaandel van liefde.

5 Verfris my met rosyntjies,

verkwik my met appels,

want ek is siek van liefde.

6 Sy linkerarm is onder my kop,

sy regterarm omhels my.

7 Meisies van Jerusalem,

ek besweer julle

by die ribbok- en takbokooie

van die veld:

Moenie die liefde aanwakker nie,

moet dit nie opwek nie,

voordat dit nie self wil ontwaak nie.

8 Luister! My liefste!

Kyk! Daar kom hy,

al bokspringend oor die berge,

al huppelend oor die heuwels!

9My liefste is soos 'n ribbok,

soos 'n jong rooitakbok.

Kyk! Hy staan agter ons huismuur,

hy kyk by die vensters in,

hy loer deur die latwerk.

10My liefste antwoord my,

hy sê vir my:

“Staan op, my liefling,

my mooiste, en kom!

11Want kyk, die winter

het verbygegaan,

die reën is verby, dit het opgeklaar.

12Die veld staan in die blom.

Die tyd om te sing het aangebreek,

die gekoer van die tortelduiwe

klink op in ons land.

13 Die vyeboom laat sy groen vye

uitswel,

die wingerd bot en versprei sy geur.

Staan op, my liefling,

my mooiste, en kom!

14 My duif in die rotsskeure,

in die skuilplekke

teen die bergkrans –

laat my jou gesig sien,

laat my jou stem hoor,

want jou stem is soet

en jou gesig is pragtig.”

15 Vang vir ons die jakkalse –

die klein jakkalsies

wat die wingerde verniel,

ons wingerde wat bot.

16My liefste is myne en ek is syne,

hy wat tussen die narsings wei.

17 Totdat die dag begin asemhaal

en die skaduwees vlug:

Draai om, my liefste,

wees soos 'n ribbok,

soos 'n jong rooitakbok

op die tweelingheuwels.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help