Hooglied 7 - Die Bybel 2020-vertaling

Hy:

1 Hoe mooi is jou voete in jou sandale,

dogter van 'n edele.

Die kurwes van jou heupe

is soos ornamente –

die werk van kunstenaarshande!

2Jou naeltjie is 'n ronde kelk –

mag dit vol kruiewyn bly.

Jou maag is 'n hopie koring,

met narsings omsoom.

3 Jou borste is soos twee

jong bokkies,

die tweeling van 'n ribbokooi.

4 Jou nek is soos 'n toring van ivoor,

jou oë soos die poele by Gesbon,

by die poort van Bat-Rabbim.

Jou neus is soos die toring

van Libanon wat uitkyk

oor Damaskus.

5 Jou kop is soos Karmel,

jou los hare soos purperstof –

'n koning raak verstrengel in die lokke.

6 Hoe mooi, hoe lieflik is jy,

liefling, hoe verruklik!

7Jou gestalte is soos 'n palmboom,

jou borste soos druiwetrosse.

8 Ek het gedink:

Ek wil teen die palmboom opklim

en sy dadelpluime pluk.

Mag jou borste

soos trosse druiwe wees,

die geur van jou asem

soos appels,

9 en jou mond

soos die beste wyn ...

Sy:

... wat glad vir my liefste vloei,

liggies oor die lippe

van slapendes gly.

10 Ek behoort aan my liefste

en sy begeerte is na my.

11 Kom, my liefste!

Kom ons gaan uit na die veld,

laat ons tussen die hennablomme oornag.

12 Laat ons vroeg na die wingerde gaan,

gaan kyk of die wingerd bot,

of die botsels al oop is,

of die granaatbome in bloei staan.

Daar sal ek my liefde aan jou gee.

13 Die alruin versprei sy geur

en voor ons deur is allerlei

heerlike vrugte van hierdie

en die vorige seisoen,

wat ek vir jou bewaar het,

my liefste.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help