Jesaja 46 - Die Bybel 2020-vertaling

God of die afgode

1 Bel het inmekaargesak,

Nebo is vooroor gebuig.

Hulle afgodsbeelde behoort

aan die wilde diere en aan die vee.

Julle draagbare gode is opgelaai –

'n las vir uitgeputte diere.

2Hulle staan vooroor gebuig,

saam sak hulle inmekaar;

hulle kan die vrag nie red nie.

Hulle gaan self in ballingskap.

3“ Luister na My, huis van Jakob,

die hele oorblyfsel

van die huis van Israel,

julle wat gedra is

vanaf die baarmoeder,

wat opgetel is

van die moederskoot af.

4Tot in julle ouderdom is Ek daar;

tot in julle gryse ouderdom

is Ek die Een wat julle dra.

Dit is Ek wat dit gedoen het:

dit is Ek wat optel,

dit is Ek wat dra en verlos.

5 Met wie wil julle My vergelyk,

en aan wie My gelykstel,

wie beskou julle as My gelyke,

dat ons dieselfde is?

6 Hulle wat goud uit 'n geldsak skud

en silwer met 'n weegskaal afweeg,

hulle huur 'n goudsmid,

en hy maak 'n god daarvan.

Hulle kniel voor hom,

hulle buig selfs in aanbidding;

7 hulle tel hom op hulle skouers,

hulle dra hom en plaas hom

op sy plek –

en daar staan hy!

Van dié plek af kan hy nie beweeg nie.

Selfs as iemand na hom om hulp roep,

antwoord hy nie;

uit benoudheid kan hy iemand

nie verlos nie.

8“ Onthou dit,

sodat julle standvastig kan wees.

Neem dit ter harte, oortreders!

9 Onthou die dinge van vroeër,

van lank gelede;

want Ek is God,

en daar is geen ander nie,

God,

en daar is niemand soos Ek nie –

10 Ek wat van die begin af

die afloop aankondig,

van lank gelede af

dit wat nog nie gebeur het nie;

Ek wat sê,

‘My raadsbesluit sal standhou;

alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer,’

11 Ek wat uit die ooste 'n roofvoël roep,

van 'n ver land af iemand roep

vir my raadsbesluit.

Ja, Ek het dit aangekondig;

Ek sal dit beslis laat gebeur.

Ek het dit gereedgemaak;

Ek sal dit beslis uitvoer.

12“Luister na My, trotses van hart,

julle wat ver is van geregtigheid.

13 Ek het my geregtigheid

nader gebring;

dit is nie meer ver nie.

Die verlossing wat Ek bring,

sal nie talm nie.

In Sion sal Ek verlossing skenk,

aan Israel my heerlikheid.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help