Psalms 32 - Die Bybel 2020-vertaling

1Van Dawid. 'n Maskiel.

Gelukkig is die een

wie se oortreding vergewe,

wie se sonde bedek is.

2 Gelukkig is die mens

vir wie die Here

sondeskuld nie toereken nie,

en in wie se gees geen bedrog is nie.

3Toe ek stilgebly het,

het my gebeente broos geword

onder my gekreun die hele dag.

4Ja, dag en nag was u hand

swaar op my;

my lewenskrag het weggekwyn

soos in die hitte van die somer. •Sela

5 My sonde het ek teenoor U erken;

my sondeskuld het ek nie bedek nie.

Ek het gedink, ek wil my oortredings

teenoor die Here bely,

en U het my sondeskuld vergewe. Sela

6Dit is waarom elke getroue

volgeling tot U moet bid

terwyl die geleentheid daar is.

Die geluid van 'n groot watervloed

sal hom nie bereik nie.

7U bied vir my beskutting;

U vrywaar my van nood;

met jubelkrete van bevryding

omring U my. Sela

8Ek wil jou insig gee,

Ek wil jou die pad leer

wat jy moet loop.

Ek wil jou raad gee,

my oog oor jou hou.

9Moet julle nie soos 'n perd,

soos 'n muil sonder verstand,

gedra nie:

Met toom en stang moet sy krag

beteuel word,

anders bly hy nie by jou nie.

10'n Goddelose het baie smarte,

maar wie op die Here vertrou –

troue liefde omring hom.

11Verbly julle in die Here,

en juig, regverdiges;

ja, jubel dit uit,

almal met opregte harte.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help