Jeremia 20 - Die Bybel 2020-vertaling

Mishandeling van Jeremia

1Die priester Pasgur, seun van Immer – hy was die hoofopsiener in die •tempel van die Here – het Jeremia hierdie woorde hoor profeteer.

2 Pasgur het toe die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit wat by die boonste Benjaminpoort was in die huis van die Here.

3Toe Pasgur Jeremia die volgende dag uit die blok uithaal, sê Jeremia vir hom: “Die Here noem jou nie Pasgur nie, maar Verskrikking aan Alle Kante.

4Want so sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan jou 'n verskrikking maak vir jouself en vir al jou vriende. Hulle sal deur die swaard van hulle vyande val terwyl jou oë dit aanskou. Die hele Juda gee Ek oor in die hand van die koning van Babilonië. Hy sal hulle na Babilonië wegvoer en met die swaard ombring.

5Ek sal al die voorraad van hierdie stad, al haar produkte, al haar kosbaarhede en al die skatte van die konings van Juda oorgee in die hand van hulle vyande. Hulle sal dit buitmaak, dit wegvat en na Babel neem.

6En jy, Pasgur, en al die inwoners van jou huis, sal in gevangenskap gaan. In Babel sal jy aankom, daar sal jy sterf, en daar sal jy begrawe word, jy en al jou vriende vir wie jy leuens geprofeteer het.’ ”

Jeremia se worsteling

7 U het my mislei, Here,

en ek het my laat mislei.

U het my oorweldig,

U het die oorhand gekry.

Ek word uitgelag, die hele dag;

almal dryf die spot met my.

8Want telkens wanneer ek praat,

moet ek dit uitskreeu.

“Geweld en verdrukking!”

roep ek uit.

Ja, die woord van die Here het vir my

tot bespotting en hoon geword,

die hele dag lank.

9 Ek het al gesê:

“Ek sal nie aan Hom dink nie,

nie meer in sy Naam iets sê nie.”

Maar dan word dit in my hart

soos 'n vuur wat brand,

vasgevang in my gebeente!

Ek het my moeg gemaak

om dit binne te hou,

maar ek kon nie.

10 Ja, ek het die geskimp van baie gehoor:

“Verskrikking aan alle kante!

Neem kennis!

Ons sal dit bekend maak!”

Al my sogenaamde vriende

verwag my val:

“Miskien kan hy mislei word,

sodat ons die oorhand oor hom kan kry

en ons op hom kan wreek.”

11Maar die Here is by my,

soos 'n vreesaanjaende krygsheld.

Daarom sal my vervolgers tot 'n val kom;

hulle sal nie die oorhand kry nie.

Hulle sal geheel en al beskaamd staan,

want hulle sal nie slaag nie –

'n ewige vernedering

wat nie vergeet sal word nie.

12 Here, Heerser oor alle magte,

U wat regverdiges toets,

wat hart en niere deurskou,

laat ek u wraak op hulle sien;

want aan U het ek my regsaak toevertrou.

13Sing vir die Here!

Loof die Here!

Want Hy het die lewe van 'n behoeftige

gered uit die hand van boosdoeners.

14 Vervloek is die dag

waarop ek gebore is!

Mag die dag waarop my moeder

my in die wêreld gebring het,

nie geseënd wees nie!

15Vervloek is die man wat die nuus

vir my vader gebring het:

“'n Kind is vir jou gebore, 'n seun!” –

iets wat hom baie bly gemaak het.

16Mag daardie man wees

soos die stede wat die Here platgeslaan het

sonder om jammer te wees.

Mag hy uitroepe om hulp hoor in die môre,

en oorlogskrete teen die middag,

17omdat hy my nie doodgemaak het

in die baarmoeder,

sodat my moeder my graf geword het,

en haar baarmoeder

ewig swanger gebly het nie.

18Waarom het ek ooit

uit die baarmoeder uitgegaan –

om swaarkry en verdriet te ervaar?

Moet my dae in skande eindig?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help