Jesaja 11 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Maar 'n takkie sal spruit

uit die stomp van Isai,

en 'n loot uit sy wortels

sal vrugte dra.

2 Die gees van die Here

sal op hom rus –

die gees van wysheid en insig,

die gees van raad en sterkte,

die gees van kennis en ontsag

vir die Here.

3 Hy sal genot put

uit ontsag vir die Here.

Hy sal nie 'n beslissing vel

volgens wat sy oë sien nie,

en nie teregwys

volgens wat sy ore hoor nie.

4 Hy sal regverdig beslis

oor die armes,

en die magteloses van die land

billik teregwys.

Hy sal die land slaan

met die stok van sy mond,

en met die asem van sy lippe

die goddelose doodmaak.

5 Geregtigheid sal 'n gordel

om sy middel wees,

en betroubaarheid 'n gordel

om sy heupe.

6 'n Wolf sal by 'n lam vertoef,

en 'n luiperd sal by 'n boklam gaan lê,

'n kalf, 'n jong leeu

en vetgemaakte vee bymekaar –

'n klein seuntjie sal hulle lei.

7'n Koei en 'n beerwyfie

sal saam wei,

en hulle kleintjies sal saam gaan lê.

'n Leeu sal soos 'n bees gras eet.

8'n Suigeling sal speel

by die gat van 'n horingslang,

en 'n kleuter sal sy hand uitsteek

na die nes van 'n kobra.

9Mense sal nie kwaad doen

of hulle wangedra nie –

nêrens op my hele heilige berg nie;

want die land sal vol wees

van die kennis van die Here,

soos water die see bedek.

10 Op daardie dag sal die wortel

van Isai as banier vir die volke

bly staan –

die nasies sal daarna vra,

en sy rusplek sal luisterryk wees.

11 Op daardie dag

sal my Heer weer,

vir 'n tweede keer,

sy hand uitsteek

om die oorblyfsel

van sy volk te koop –

hulle wat oorgebly het

in Assirië, Egipte, Patros, Kus,

Elam, Sinar, Hamat

en die eilande van die see.

12 Hy sal 'n banier opsteek

vir die nasies;

Hy sal die verstrooides van Israel

versamel,

en dié van Juda wat uitmekaar

gejaag is,

byeenbring uit die vier uithoeke

van die aarde.

13 Die naywer van Efraim sal wyk,

en die teenstanders van Juda

sal uitgeroei word.

Efraim sal nie afgunstig wees

op Juda nie,

en Juda sal nie vyandig optree

teenoor Efraim nie.

14 Na die westekant sal hulle

neerswiep op die berghang

van die Filistyne –

saam beroof hulle mense

uit die ooste.

Op Edom en Moab

sal hulle die hand lê,

en die Ammoniete

sal hulle onderdane word.

15 Die Here sal die tong

van die Egiptiese See verdeel,

sy hand oor die Rivier laat gaan

met sy geweldige wind.

Hy sal dit in sewe strome

uitmekaar slaan;

Hy sal mense met sandale

daar laat deurloop.

16Daar sal 'n grootpad

uit Assirië wees

vir die res van sy volk,

dié wat oorgebly het,

soos daar vir Israel was

die dag toe hulle

uit Egipteland opgetrek het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help