Psalms 132 - Die Bybel 2020-vertaling

1 'n •Pelgrimslied.

Dink tog, Here, aan Dawid,

aan al sy opofferings,

2hy wat teenoor die Here

'n eed gesweer het,

'n gelofte afgelê het

aan die Magtige van Jakob:

3“Ek sal nie ingaan in die tent

waar ek woon;

ek sal nie op my slaapbank

gaan lê nie,

4ek sal my oë nie toelaat

om te slaap,

my ooglede om in te sluimer nie,

5totdat ek vir die Here

'n plek gevind het,

'n woning vir die Magtige van Jakob.”

6Kyk, ons het daarvan gehoor

in Efrata,

dit gevind in die velde van Jaär.

7Laat ons sy woning binnegaan

en in aanbidding buig

voor die voetbank vir sy voete.

8 Staan op, Here, gaan na u rusplek,

U en u magtige •ark.

9U priesters moet geklee wees

in •geregtigheid,

u troue volgelinge moet jubel.

10Ter wille van u dienskneg Dawid,

moet U tog nie u gesalfde wegwys nie.

11 Die Here het vir Dawid

'n betroubare eed afgelê

en Hy sal dit nie herroep nie:

“Van jou nasate sal Ek

op jou troon plaas.

12As jou seuns my verbond nakom

en my bepalings wat Ek hulle leer,

sal ook húlle seuns vir altyd

op jou troon sit.”

13Ja, die Here het Sion uitgekies;

Hy begeer dit as sy woonplek:

14“Dit is my rusplek vir altyd;

hier wil Ek woon,

want Ek begeer dit.

15Sion se voedselvoorraad

sal Ek ryklik seën;

haar behoeftiges

sal Ek met brood versadig;

16haar priesters

sal Ek met verlossing beklee

en haar troue volgelinge

sal uitbundig juig.

17Daar sal Ek vir Dawid

'n horing laat uitgroei;

Ek het 'n lamp gereedgemaak

vir my gesalfde.

18Sy vyande

sal Ek met skande beklee,

maar sy kroon sal op hom skitter.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help