Hosea 5 - Die Bybel 2020-vertaling

1“ Luister hierna, priesters;

gee ag, huis van Israel;

en koningshuis, gee aandag,

want die oordeel is vir julle bedoel:

Ja, julle het 'n wip geword vir Mispa,

'n oopgespreide vangnet op Tabor,

2julle het 'n diep vanggat

in Sittim gegrawe.

Maar Ek is 'n tugtiging vir hulle almal.

3 “Ek ken Efraim

en Israel is vir my nie verborge nie;

ja, nou het jy gehoereer, Efraim,

Israel het homself verontreinig.”

4 Hulle dade laat hulle nie toe

om na hulle God terug te keer nie,

want 'n gees van hoerery

heers in hulle midde,

en hulle ken die Here nie.

5Israel se hoogmoed getuig openlik

teen hom,

en Israel en Efraim sal deur

hulle sondeskuld struikel.

Ook Juda het saam met hulle gestruikel.

6 Met hulle kleinvee en beeste

gaan hulle om die Here te soek,

maar hulle sal Hom nie vind nie –

Hy het Hom aan hulle onttrek.

7 Teenoor die Here was hulle ontrou,

want hulle het buite-egtelike

kinders verwek.

Nou gaan Hy hulle

met nuwemaan verteer,

saam met hulle landerye.

Oorlog tussen Efraim en Juda

8“ Blaas die •ramshoring in Gibea,

die trompet in Rama;

hef die krygsgeskreeu aan in Bet-Awen!

Agter jou is Benjamin!

9Efraim, jy gaan 'n woesteny word

op die dag van straf.

Onder die stamme van Israel

maak Ek bekend wat betroubaar is.

10“ Die leiers van Juda het geword

soos hulle wat grenslyne verlê.

Oor hulle sal Ek my gramskap uitstort

soos water.

11 Efraim is verdruk

en die reg is verkrag,

want hy was gretig om agter

'n nikswerd aan te loop.

12 Maar Ek is soos 'n abses vir Efraim,

soos verrotting vir die huis van Juda.

13Toe Efraim sy siekte bemerk

en Juda sy sweer,

het Efraim na Assirië gegaan,

'n afvaardiging na koning Jareb

gestuur.

Maar hy kan julle nie gesond maak nie,

hy kan julle van die sweer nie genees nie.

14 Want Ek is soos 'n leeu

teenoor Efraim,

soos 'n jong leeu

teenoor die huis van Juda.

Ek, ja Ek, verskeur en stap weg,

Ek dra weg terwyl niemand kan red nie.

15Ek gaan weer terug na my plek,

totdat hulle skuld bely,

en my teenwoordigheid opsoek;

in hulle nood sal hulle My soek.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help