Prediker 12 - Die Bybel 2020-vertaling

1Dink aan jou Skepper

in jou jong dae,

voordat die dae

van teenspoed kom,

en jare aanbreek waarvan jy sal sê,

“Vir my is daar geen vreugde in nie”;

2voordat die son en die lig

donker word,

die maan en die sterre;

en die wolke terugkeer

ná die reën;

3die dag wanneer die wagte

van die huis bewe,

die sterk manne krom word,

die vroue wat maal, ophou werk

omdat hulle te min geword het,

dié wat deur die vensters kyk,

donker word,

4en die deure na die straat

gesluit word;

wanneer die geluid van die meul

sag word;

wanneer sy stem klink

soos die klank van 'n voël,

maar al die tone van die lied

dof is;

5wanneer daar selfs

vir 'n hoogte gevrees word

en daar verskrikking

op die pad is;

terwyl amandelbome bloei,

koringkrieke hulleself voortsleep

en kappertjies oopbreek,

wanneer die mens op pad is

na sy ewige huis,

en die rouklaers in die straat rondgaan;

6voordat die silwerkoord

verwyder word,

die goue bak stukkend val,

die kruik langs die waterbron

gebreek word,

die skepwiel stukkend val

in die put,

7 die stof na die aarde

terugkeer soos dit was,

en die lewensasem na God

terugkeer wat dit gegee het.

8 Sinloos, volslae sinloos,

sê die prediker,

alles is sinloos!

Twee naskrifte

9Nie net was Prediker wys nie, hy het ook nog kennis aan die volk oorgedra. Hy het oorweeg en nagevors; hy het baie wysheidspreuke georden.

10Prediker het daarna gestreef om gepaste woorde te vind, wat eerlik neergeskryf is – waar woorde.

11Die woorde van wyses is soos skerp stokke; soos spykers wat ingeslaan is, is die hoofgedagtes van 'n versameling. Hulle is deur een Herder gegee.

12Bo en behalwe alles, nog dit:

My seun, wees gewaarsku: Aan die skryf van baie •boekrolle kom daar geen einde nie, en baie studie is uitputtend vir die liggaam.

13 Die slotsom is, nadat alles gehoor is:

Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom.

14 Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help