Spreuke 22 - Die Bybel 2020-vertaling

1 'n Goeie naam is verkieslik

bo groot rykdom,

egte innemendheid

bo silwer en goud.

2 Rykes en armes het dít gemeen:

Die Here het hulle almal gemaak.

3 'n Slim mens sien gevaar en skuil,

maar onverstandiges gaan voort

en betaal die prys.

4 Die beloning vir nederigheid

en ontsag vir die Here

is rykdom, eer en lewe.

5 Dorings en wippe is op die pad

van 'n vals persoon;

wie sy lewe wil beskerm,

bly ver daarvan weg.

6 Rig die jongmens af

ooreenkomstig die pad

wat hy moet loop;

selfs wanneer hy oud geword het,

sal hy nie daarvan afwyk nie.

7 'n Ryke heers oor armes,

en wie leen, is 'n slaaf van die man

wat uitleen.

8 Wie onreg saai, sal boosheid oes,

en die lat van sy woedebui

sal tot niet gaan.

9 Wie ruimhartig is,

sal geseën word,

want hy gee van sy brood

aan die hulpelose.

10 Dryf 'n spotter weg,

dan is stryd by die deur uit,

en eise en skandalige optrede hou op.

11 Wie 'n rein hart liefhet,

wie innemend praat,

sal 'n koning as sy vriend hê.

12 Die oë van die Here

bewaak kennis,

en die sake van 'n bedrieër

werp Hy omver.

13 Die luiaard sê:

“Daar is 'n leeu buite!

Binne-in die dorpspleine

sal ek doodgemaak word!”

14 Die mond van vreemde vroue

is 'n diep vangkuil;

wie deur die Here verdoem is,

sal daarin val.

15 Sotheid wat vas is aan die hart

van 'n jong seun –

'n lat wat straf,

neem dit ver van hom weg.

16 Wie 'n arm mens uitbuit

om vir homself meer te kry,

en aan 'n ryk mens geskenke gee –

dit lei net tot gebrek.

Dertig spreuke van wyses

17 Spits jou oor en luister

na die woorde van wyses!

En jou hart, stel dit in op my kennis!

18Want dit is aangenaam

as jy dit in jou binneste bewaar,

as dit alles gereed lê op jou lippe.

19Met die oog daarop

dat jou vertroue

op die Here sal wees,

maak ek dit vandag

aan jou bekend, ja, aan jou.

20Het ek nie vir jou dertig spreuke

opgeskryf met raad en kennis

21om aan jou die waarheid,

betroubare woorde,

bekend te maak,

sodat jy betroubare antwoorde

kan gee aan dié

wat jou gestuur het nie?

22 Moenie 'n arme beroof

omdat hy arm is nie,

en moenie die magtelose vertrap

in die poort nie,

23want die Here

sal hulle regstryd voer

en van hulle plunderaars

die lewe plunder.

24 Moenie vriende maak

met 'n humeurige mens nie,

en met 'n opvlieënde man

moet jy nie saamgaan nie;

25anders raak jy vertroud

met sy paaie

en stel jy só 'n valstrik vir jouself.

26 Moenie onder dié wees

wat hand gee,

wat vir skulde borg staan nie.

27As jy dalk niks het om te betaal nie,

waarom moet iemand jou bed

onder jou uit neem?

28 Moenie ou grense verskuif

wat jou voorouers gelê het nie.

29 Sien jy 'n man wat knap is

in sy werk?

Voor konings sal hy in diens staan;

hy sal nie in diens

van onaansienlikes staan nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help