Jesaja 39 - Die Bybel 2020-vertaling

1 In daardie tyd het Merodag-Baladan, seun van Baladan, die koning van Babilonië, briewe en 'n geskenk na Hiskia gestuur. Hy het gehoor dat hy siek was en herstel het.

2Hiskia was bly oor hulle besoek, en het hulle sy skatkamer gewys – die silwer, die goud, die speserye en die kosbare olie – ook sy hele arsenaal en alles wat in sy voorraadkamers te vinde was. Daar was niks in sy paleis of in sy hele koninkryk wat Hiskia hulle nie gewys het nie.

3Jesaja, die profeet, het na koning Hiskia gekom en hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en van waar af het hulle na jou toe gekom?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land het hulle na my gekom, uit Babel.”

4Jesaja vra toe: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskia het geantwoord: “Alles wat in my paleis is, het hulle gesien. Daar is niks in my voorraadkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.”

5Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hoor die woord van die Here, Heerser oor alle magte,

6‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê.

7‘ En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.”

8Hiskia sê toe vir Jesaja: “Die woord van die Here wat jy gespreek het, is goed.” Hy het gedink: Want daar sal vrede en bestendigheid in my tyd wees.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help