Hooglied 6 - Die Bybel 2020-vertaling

Koor:

1 Waarheen het jou liefste gegaan,

mooiste onder die vroue?

Waarheen het jou liefste weggedraai,

dat ons hom saam met jou

kan soek?

Sy:

2 My liefste het na sy tuin gegaan,

af na die beddings balsemkruid

om in die tuine te wei

en om narsings te pluk.

3 Ek behoort aan my liefste

en my liefste behoort aan my,

hy wat tussen die narsings wei.

Hy:

4 Jy is mooi, my liefling, soos Tirsa,

pragtig soos Jerusalem,

indrukwekkend soos

vaandeldraers.

5 Wend jou oë af van my,

want hulle ontsenu my.

Jou hare is soos 'n trop bokke

wat teen Gilead afstroom.

6Jou tande is soos 'n kudde ooie

wat van die drinkplek af opkom,

almal tweelinge,

nie een van hulle op sy eie nie.

7Agter jou sluier is jou slape

soos 'n oopgebreekte granaat.

8 Al is daar sestig koninginne,

tagtig byvroue,

en ontelbare jong vroue,

9 my duif, my volmaakte, is enig.

Enig is sy vir haar ma,

die gunsteling van die een

wat haar in die wêreld gebring het.

Die meisies sien haar raak

en noem haar gelukkig;

die koninginne en byvroue

sien haar raak en prys haar.

Koor:

10 Wie is dit wat daar verskyn

soos die dagbreek,

mooi soos die volmaan,

helder soos die son,

indrukwekkend soos

vaandeldraers?

Sy:

11 Na die neuteboord het ek afgegaan

om te kyk na die jong plante

by die spruit,

om te kyk of die wingerde rank,

die granaatbome bloei.

12 Sonder dat ek dit besef,

het my begeerte my verplaas

na die strydwaens van die

vooraanstaandes van my volk.

Koor:

13 Draai om, meisie uit Sulem,

draai om!

Draai om!

Draai om, sodat ons na jou kan kyk!

Waarom staar julle na die meisie

uit Sulem asof na die kringdans

van Mahanaim?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help