Hebreërs 3 - Die Bybel 2020-vertaling

Jesus uitnemender as Moses

1Daarom, heilige broers, deelgenote van 'n hemelse roeping, let noukeurig op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis –

2Hy wat getrou is aan die Een wat Hom aangestel het, soos wat ook Moses getrou was in die hele huis van God.

3Hy is inderdaad groter heerlikheid waardig geag as Moses – soos wat die bouer van die huis meer aansien het as die huis self.

4 Elke huis word immers deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het.

5Moses was wel as tempeldienaar getrou in God se hele huis, tot 'n getuienis van wat verkondig sou word,

6maar •Christus was as Seun getrou oor sy huis; en ons is sy huis as ons bly vashou aan die vrymoedigheid en hoop waarop ons ons beroem.

Waarskuwing teen verharding

7Daarom, soos die Heilige Gees sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor,

8 moenie julle harte verhard,

soos tydens die opstand

die dag van versoeking in die woestyn,

9toe julle voorouers My versoek

en beproef het nie,

al het hulle my dade gesien –

10veertig jaar lank.

Daarom het my toorn ontvlam

teenoor hierdie geslag,

en het Ek gesê,

‘In hulle harte is hulle altyd

op 'n dwaalspoor,

en my paaie wou hulle nie leer ken nie.’

11 So het Ek in my toorn gesweer,

‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ”

12Broers, waak daarteen dat nie een van julle ooit 'n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie.

13Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van “vandag” sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

14Ons het inderdaad deelgenote van •Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue –

15soos gesê word:

“Vandag, as julle sy stem hoor,

moenie julle harte verhard,

soos tydens die opstand nie.”

16 Wie was dit wat gehoor het, maar nietemin in opstand gekom het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte uitgetrek het nie?

17Op wie was Hy veertig jaar lank toornig? Was dit nie op hulle wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn gelê het nie?

18Vir wie, behalwe hulle wat ongehoorsaam was, het Hy gesweer dat hulle beslis nie in sy rus sal ingaan nie?

19Ons sien dus dat hulle vanweë ongeloof nie in staat was om in sy rus in te gaan nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help