Jesaja 61 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Die Gees van my Heer,

die Here is op my,

omdat die Here my gesalf het.

Hy het my gestuur

om 'n goeie boodskap te bring

aan magteloses,

om dié met gebroke harte

se wonde te verbind,

om dié wat weggevoer is

se vrylating aan te kondig

en bevryding vir dié wat geboei is,

2om die genadejaar

van die Here aan te kondig,

ons God se dag van wraak,

om almal wat rou, te troos,

3om te voorsien vir hulle

wat oor Sion rou,

om vir hulle •tulbande te gee

in plaas van stof,

vreugde-olie in plaas van rou,

klere vir lofprysing

in plaas van 'n verslae gees.

Hulle sal genoem word:

terebinte van geregtigheid,

geplant deur die Here

om Hom te verheerlik.

4 Hulle sal die oeroue puinhope herbou,

die verwoeste plekke van vroeër weer oprig,

dorpe wat in puin lê,

wat geslagte lank verwoes is,

sal hulle nuut maak.

5 Vreemdes sal in julle diens wees

en julle kleinvee laat wei,

buitelanders sal julle plaaswerkers

en julle wynbouers wees.

6Maar julle,

priesters van die Here

sal julle genoem word.

As dienaars van ons God

sal daar na julle verwys word.

Die rykdom van nasies

sal julle geniet,

en met hulle luister

sal julle spog.

7 In plaas van julle skande

word julle dubbeld vergoed.

Ja, in plaas van vernedering

sal hulle jubel oor hulle deel;

daarom sal hulle 'n dubbele deel

in hulle land in besit neem.

Daar sal vir hulle ewige vreugde wees.

8“ Ja, Ek, die Here,

het regverdigheid lief;

Ek haat roof, veral saam met onreg.

“Ek sal hulle beloning aan hulle gee

op grond van my trou;

'n ewige verbond sal Ek met hulle sluit.

9 Hulle nageslag sal bekend wees

onder die nasies,

hulle nakomelinge onder die volke.

Almal wat hulle sien,

sal hulle herken –

dat hulle die geslag is

wat deur die Here geseën is. ”

10 Ek verheug my grootliks

in die Here;

my hele wese juig oor my God.

Want Hy het vir my klere

van verlossing aangetrek,

'n mantel van geregtigheid

het Hy my omgehang,

asof ek 'n bruidegom is,

soos 'n priester met 'n tulband,

soos 'n bruid met haar versierings.

11 Ja, soos die grond sy plante voortbring

en 'n tuin sy saailinge laat uitspruit,

so sal my Heer, die Here

geregtigheid en lof laat uitspruit

voor al die nasies.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help